Logo
Die Byl S4 Slim
web uni tv guide

Die Byl

144Misdaad16 V

Kreatiewe Stian en die grillerige Len – Die Byl

Nuus
24 Februarie 2022
Stian Bam het deeglik navorsing gedoen voor hy die karakter Len Villiers in Die Byl gespeel het. Ja, daardie laggie is nie sommer net nie ...
Stian Bam – Die Byl 4

Hoe het jy die karakter gebou ná jy die draaiboek gelees het?
Ek het gedink dit is makaber en donker. Ons het nie eintlik sulke donker kriminele op Suid-Afrikaanse TV nie. Oorsese reekse, ja, maar nie hier by ons nie. In die materiaal wat ek vir die oudisie gedoen het, was daar al spesifieke leidrade soos dat hy kuru het en daarom sekere fisiese eienskappe het. Maar jy moet ook in die karakter se kop inklim; probeer rasionaliseer hoekom iemand doen wat hy doen.

Ek het baie gelees en reekse al deur die jare gekyk en al hierdie inligting gaan lê in jou onderbewussyn wat jy nie aktiveer tot jy dit nodig het nie. Maar aan die einde van die dag gaan alles oor die teks wat jy gegee word om te speel en al die leidrade oor Len Villiers was daar.

Dit is vir my moeilik om aan my twee episodes in Die Byl te dink sonder om aan Leon Kruger (die skrywer en regisseur wat in 2021 oorlede is) te dink. Hy was die regisseur van die twee episodes en was ’n groot vangnet vir my. Hy het ook die karakter gesien soos ek hom gesien het wat dit maklik gemaak het.

Wie het besluit op die snor? En die laggie?
My baard was lank daardie tyd en ek het vir Leon gevra of ek alles moet skeer. Hy het gedink ek moet ’n snor hê nadat die grimeerkunstenaar dit voorgestel het. Dit herinner baie aan die 1980’s. So ’n retro vibe. Vreemd genoeg het die Amerikaanse reeksmoordenaars Ted Bundy en Jeffrey Dahmer ook op ’n tyd al twee snorre gehad.

Die laggie het te doen met kuru, die siekte waaraan Len ly en wat jy kry wanneer jy menslike vleis en organe eet. Een van die simptome is dat jy onder meer onbeheersd lag.

Jy lyk of jy heel handig met ’n naaimasjien is. Is dit iets wat jy al voorheen gedoen het?
Ja, ek is baie lief vir naaldwerk. Ek het ’n moeder wat ’n naaldwerkkoningin was en sy het my geleer. Ek het al klere gemaak en het om die waarheid te sê my eie industriële omkapmasjien. Ek is juis op soek na ’n nuwe naaimasjien. Dis baie makliker om jou eie gordyne te maak of die kinders se klere reg te maak as om iemand te betaal om dit te doen.

Jy klap op ’n stadium twee vroue. Hoe het julle die tonele geskiet?
Die klaptonele is met sorg gedoen. Jy kan baie cheat met ’n kamera en ons het die tonele oor en oor gerepeteer. Daar was ook ’n stunt coordinator en hulle is baie goed met wat hulle doen. So ja, dit was repetisie, repetisie, repetisie en dan natuurlik die redigeerder wat alles aan die einde bymekaar sit om dit realisties te laat lyk.

Al die bloed! Was dit grillerig?
Dis mos nie regtig bloed nie, maar ja, dit was hectic. Die mense wat die props gemaak het, was incredible, maar dit was ’n grillerige besigheid. Dit was rof! Die bloed is so taaierig en soet. Ek was ook baie bang ek gly op die bloed.

Wat is jou gunsteling-riller van alle tye?
Ek is mal oor Psycho. My heel eerste riller as kind was The Birds en dit was baie erg. ’n Baie goeie riller is Silence of the Lambs, maar meer oor die spelers as die storie. Ek het gehou van Funny Games, die Oostenrykse-film wat deur Michael Haneke geskryf en regisseer is.

Eintlik is nie so erg oor rillers nie. Dit is beslis nie my ultimate nie. Ek hou van sielkundige rillers en hou meer van crime thrillers te lees.

As jy ’n rol in enige riller kan speel, wat sal dit wees?
Jy moet ’n baie geloofwaardige karakter speel. Dit wat hy doen te rasionaliseer en dit is die grootste uitdaging. Enigiets wat mens uitdaag as akteur, is ’n wonderlike geleentheid. Vir my sal dit baie lekker wees om die persoon te speel wat weghardkloop van die bad guy.

Wat het jy die meeste gemis die afgelope twee jaar?
Dat jy kan repeteer en saam met jou kollegas wees en sien hoe hulle werk. Ek het gemis om deel van daardie familie te wees en nuwe rolle te skep saam met kreatiewe mense; die repetisie-proses en te delf om ’n karakter te vorm.

Jy is ’n uiterse talentvolle kunstenaar. Is daar dalk ’n uitstalling op pad?
Dis net ’n stokperdjie vir my. Ek maak wanneer ek tyd het goedjies en kyk of iemand dit wil koop en ongelukkig kry ek nie baie tyd daarvoor nie, maar ek fokus om tyd te maak om meer kreatief te wees.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?
Om te oorleef. Ek gee soms klas by die universiteit in Stellenbosch, is in ’n toneelstuk by vanjaar se KKNK en werk as bestuurder by ’n restaurant. Ek is ook onlangs aangestel as kunstenaarmentor by Curro Create, ’n program vir die kreatiewe kinders wat by Curro skoolgaan, wat ’n groot voorreg is.  

Skakel elke Sondagaand om 20:00 in vir Die Byl