Logo

Kreatiewe siele kan nie verniet werk

Nuus
20 Maart 2015
Vandeesweek het Prontuit gesels oor probleme rondom vergoeding in kreatiewe loopbane.
kn_prontuit_20150318_die_kunste

Een van die groot gesprekspunte gisteraand op Prontuit was die manier waarop daar dikwels van mense in die kreatiewe bedryf verwag word om hul dienste gratis te lewer, sonder erkenning dat dit vir hulle brood op die tafel moet sit.

In die ateljee was fotograaf Louise Pieterse, die aktrise Bertha le Roux, agent Jennis Williamson en Suné Lötter, webredakteur.

Pieterse, wat spesialiseer in musiek- en vermaakfotografie, het verduidelik dat haar bedryf “oorloop” van fotograwe – en as een weier om ’n projek verniet of teen lae koste te doen, is daar 50 ander wat bereid sal wees om oor te neem.

Volgens Le Roux word akteurs dikwels gevra om openbare optredes sonder vergoeding te doen: “Kom sê net ’n paar woordjies.” Dit gaan nie net oor die optrede self nie, het sy verduidelik, maar die tyd wat dit neem om voor te berei en aspekte soos reiskoste.

“Dan bied hulle my ’n ete aan. Kan ek my kinders saambring dat hulle ook kan eet?”

Williamson meen dit is uitbuiting; almal van ’n dokter tot ’n motorwerktuigkundige word betaal vir hulle werk, en daar is geen rede om kreatiewe mense nié te betaal nie.

Daar is sommige gevalle waar dit die moeite werd is om verniet te werk. Lötter het aanvanklik vir die staatsdiens gewerk en sonder vergoeding vryskutwerk gedoen om ondervinding op te bou in digitale media.