Logo
Koortjies 970x90
web uni tv guide

Koortjies Met Jonathan Rubain

145GeselsprogramPG

Koortjies met Jonathan Rubain is terug – en reg vir aksie!

Nuus
26 Maart 2021
Daar is niks so lekker soos ’n Sondagaand-bedieningsessie met jou familie en Jonathan Rubain in die agtergrond nie!
BB

kykNET&kie, DStv-kanaal 145, is opgewonde om aan te kondig dat die tweede seisoen van Koortjies met Jonathan Rubain binnekort weer vanaf Sondag 4 April om 18:00 op die kassie sal wees.

Hierdie keer kan kykers uitsien na ’n splinternuwe stel, nóg inspirerende gaste, boeiende stories en lekker aanbiddingsliedere wat jou siel sal vul vir die week wat kom.

“Die sukses en gewildheid van Koortjies op kykNET&kie is uiters verblydend. Die program bied aan kykers die geleentheid om hul eie sielsvreugde in geloof en spiritualiteit uit te leef elke Sondag en om ’n refleksie daarvan te sien in die gaste, hul stories en ervarings asook in elke opvoering deur Jonathan Rubain en sy band,” sê Karen Meiring, M-Net direkteur: kykNET-kanale.

In die eerste spesiale episode vier ons Paassondag. Pastoor en sanger Patrick Duncan en dominee Farren Watt van Lambertsbaai kom deel hul kennis.

Verder kan kykers ook uitsien na onderwerpe soos die rol wat familie speel, die rouproses as jy iemand aan die dood moes afstaan en hoe om vry te wees van sonde, verslawing en enige ander kwessies wat jou terughou.

Van die bekende gaste wat kom kuier, is die akteur Dann-Jacques Mouton, bekend vir sy rol in Noem my Skollie, Abraham en ’n gasrol in Suidooster, Merlin Balie wat Hein Venter in Arendsvlei speel, pastoor en eNuus-aanbieder Jenna-Leigh Bilong, Bishop Joshua Louw en nog vele meer.

“Die eerste seisoen van Koortjies was die begin van TV vir my. Jy wou net alles reg doen en versigtig wees. Hierdie keer is ek baie meer vry en kykers sal sien wie Jonathan regtig op die verhoog is. En die nuwe stel, wow, dis beautiful! Dit voel nou regtig soos home. As ek so hoor hoe die show mense bemoedig het en hoe dit mense gehelp het deur moeilike tye, weet ek sommer dié seisoen gaan groter wees,” sê Jonathan, aanbieder van die reeks.

En Ben Heyns, die regisseur, beaam dit: “Ons hoor gereeld getuienisse oor wat Koortjies vir die kykers beteken. Dit maak dit soveel meer die moeite werd om harder te werk, nie net om beter programme en meer musiek te bring nie, maar ook om beter inhoud vir die kykers te bring.”

Koortjies met Jonathan Rubain begin 4 April 2021 om 18:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145).