Logo
Huis Lelieveld
web uni tv guide

Huis Lelieveld

144Komedie13 L

Komedie op sy beste dié winter op kykNET

Nuus
24 Maart 2020
Vanaf April gaan Maandae allesbehalwe blou wees, met twee komedies wat op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai word.
Untitled design

Die laaste episode van die gewilde komedie, Hotel, se huidige seisoen word op Maandag 30 Maart 20:00 uitgesaai, maar vanaf 6 April kan kykers na die tweede seisoen van Huis Lelieveld en die nuwe komedie, Cas Oppie Kassie, uitsien.

Huis Lelieveld

Die tweede seisoen van Willie Esterhuizen se komedie, Huis Lelieveld, skop af op Maandag 6 April 20:00. In die eerste seisoen van Huis Lelieveld, het kykers die inwoners van die aftreeoord, Huis Lelieveld – waar Molly (Lizz Meiring) die matrone is – leer ken.

Die inwoners van Huis Lelieveld sluit in Fleur Pot (Elma Potgieter), Gielie se ma, Martha Goosen (Karin van der Laag) en Blaartjie Louw (Yvonne Schoeman). Die Huis Lelieveld-personeel is Dominee Dou Droel (Matt Stern), wat onder sensuur geplaas is vanweë sy swakpunt vir vrouens, Spanner Proes (Reginald Hufkie), die kleurryke faktotum wat ’n interessante lewe buite die oord het, en Koekie de Kok (Lara Lourens), Ds Droel se assistent en deeltydse paaldanseres.

In die nuwe seisoen ontmoet kykers ‘n nuwe karakter, Vis Venter, wat vertolk word deur Lochner de Kock. Vis is die grootste moeilikheidmaker in die oord – hy dobbel en drink, en beskou die oord as sy Playboy mansion. Hy geniet elke oomblik van sy aftrede en sien dit as ’n geleentheid om die heeltyd partytjie te hou.

Van ds Droel wat in die aanhoudingselle van die polisiestasie beland en Vis Venter wat allerhande interessante idees bedink om geld te maak tot Blaartjie poedelnakend met ‘n kitaar in haar hand en blommetjies in haar hare in die eetsaal loop ná te veel mampoer– die inwoners van Huis Lelieveld gaan wys dat hulle dalk oud is, maar beslis nog nie koud nie!

Cas Oppie Kassie

Casper de Vries is ná ‘n dekade terug op kykNET, met die komedie, Cas Oppie Kassie, wat vanaf Maandag 6 April 20:30 uitgesaai word.

Kykers kan daarna uitsien om ‘n rits bekende akteurs in een van die komiese insetsels, Die Laager, in Cas Oppie Kassie te sien: Arno Greeff, Schalk Bezuidenhout, Chantal Jax Venter, Alfred Adriaan, Gugu Madlabane, Mila Guy, De Klerk Oelofse en Heidi Mollentze.

In dié 13-episode reeks gaan kykers kan lag vir van Casper se mees geliefde karakters, soos Hanno, Greetje, Giselle, Blertsie, Renier van Loggerenberg, en liewe Oom Kallie Marie, maar ook nuwe karakters leer ken, soos Greta Komotie, ‘n Sweedse meisie wat alles in haar vermoë sal doen om aardverwarming te keer, TV-persoonlikheid Chappie Greyling, en die sanger Snotklap.

Cas Oppie Kassie is ook een van die eerste Afrikaans TV-reeks wat ’n animasiereeks – soortgelyk aan The Simpsons en Family Guy as deel van die program het. Con se storie is ‘n geanimeerde sepie oor ‘n pastoor, Con, en sy familie se lewe wat konstant met drama gevul is. “Dis vir my altyd wonderlik om vernuwend te wees – ek is onsettend trots op die eindresultaat!,” sê Casper.

Saam met dié twee komedies is daar ook ‘n hele paar nuwe programme waarna kykers vanaf April kan uitsien. Hier is die volledige lys van nuwe programme:

  • Koortjies met Jonathan Rubain: vanaf Sondag 5 April 18:00 op kykNET&kie
  • Huis Lelieveld: vanaf Maandag 6 April 20:00
  • Cas Oppie Kassie: vanaf Maandag 6 April 20:30
  • Megaboere: vanaf Dinsdag 7 April 21:00
  • Fynskrif 3: vanaf Dinsdag 14 April 20:00
  • Die Republiek van Zoid Afrika: vanaf Donderdag 16 April 20:00
  • Op Seer se Spoor: vanaf Dinsdag 28 April 20:30 op kykNET&kie
  • Maak My Famous: vanaf Woensdag 29 April 20:00 op kykNET en 21:00 op kykNET&kie

Die kykNET-program, Fiësta, wat Maandae om 20:30 uitgesaai word, sal vanaf Maandag 6 Maart ‘n breek neem. Kykers kan uitsien na die program se terugkeer later vanjaar.