Logo

Kom praat saam met ons daaroor

Nuus
13 Desember 2019
Al ooit gewens jy kan saam met jou gunsteling radio-omroepers in die ateljee sit en kuier?
KOPD

Hier is jou kans om agter die skerms, in die oomblik en om die spreekwoordelike braaivleisvuur te sit en deel te neem aan die pret, terwyl jy op hoogte gebring word van die nuutste, vreemdste en soms mooiste stories van die dag. Alles is regstreeks, eerlik en in die oomblik - niks word vooraf opgeneem nie.

#KomOnsPraatDaaroor is nie ’n hoogdrawende eenrigting-gesprek waar kenners hulle opinie op jou afforseer nie (alhoewel ’n kenner soms ingekry word om te red wat te redde is). Die sukses van die radioprogram lê juis daarin dat die aanbieders hulself nie uitgee as kenners nie, maar as leke wat oor relevante onderwerpe wat in die nuus is, gesels, en so ook die luisteraar uitnooi om sy / haar opinie oor die saak te lig.

Die program begin met ’n kort nuus bulletin, waarna die span groet en ’n Facebook-vraag vra oor ’n relevante onderwerp. Buiten vir die gesprek oor die Facebook-vraag, word daar dan ook ander stories van die dag gedeel, wat wissel van lighartig tot soms dieper en ernstiger stories. Die program sluit soms af met ’n kort vasvrae aan die spanlede, tot groot vermaak van die luisteraar. Met die skuif na TV, gaan die kyker nou ook deel word van die radio-span se wêreld en ’n kykie kry hoe dit in ’n radio-ateljee gaan. Die program word in 4 segmente verdeel.

Die program in geheel is twee jaar agtereenvolgend genomineer vir ’n Liberty Radio Award en elke omroeper is ook al benoem en/of bekroon vir verskeie toekennings in die mediaveld. Susan is al benoem vir haar sport- en nuuskennis, Jacques vir sy sport-aanbieding en produksie-vaardigheid. Francois het al ’n MTN Radio Award vir program-aanbieding agter sy naam en Su-an het 3 ATKV-Mediaveertjies. Al 4 aanbieders is ook gereeld te sien op  Die Groot Ontbyt (weeksdae op kykNet van 06:00 – 08:00), Su-an as gereelde aanbieder, Francois as nuusleser en aktualiteits-aanbieder, Jacques as sportkommentator en Susan as nuus-kenner tydens die koerant- en ander media besprekings.

Kom Ons Praat Daaroor bring radio nader aan die kyker as ooit van tevore en het sedert sy ontstaan in 2016 uit sy nate gebars. Sommige luisteraars skakel in terwyl hulle eintlik moet werk, loop vergaderings mis en skuif middagete-ure om #KomOnsPraatDaaroor te luister. In dié ateljee is daar “geen pretensie, geen beheer.” Die diverse span deel hulle unieke opinies oor ’n aktuele saak en almal kry kans om te sê hoe hulle regtig voel. Die manier wat jy na die wêreld kyk, mag dalk net ten goede verander. Wees verseker, jy mag moontlik iewers tydens die program, ’n glimlag op jou gesig kry.