Logo
web uni tv guide

Hokaai, My Meisie!

144ReisprogramPG13 L

Kom op ’n reis saam met Shari Kennedy – van Matjiesfontein tot Tsitsikamma

Nuus
19 Maart 2021
Hokaai My Meisie! begin 3 April 2021 om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.
HMM BB

As dit nog altyd jou droom was om in die pragtige Elandsbaai te gaan branderplank ry of om op ’n riller van ’n rit op die Kalahari duine te gaan, dan is kykNET se nuwe reisprogram net vir jou! Op Hokaai, My Meisie!, wat Saterdag 3 April 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, kan jy dit en nog meer verwag!

In Hokaai, My Meisie! gaan kykers die pragtige Shari Kennedy, aanbieder van die program, se soektog na avontuurlustige, kulturele en wonderlike Suid-Afrikaanse stories volg. Met besondere bravande en ’n tikkie glans!

Shari is ’n plaasmeisie van Upington, ma van drie, ’n avonturier en ’n waaghalse rabadoe sonder ’n banghaar op haar kop!

In elke episode sal Shari na ’n verskillende area in die land reis, tyd spandeer met ’n interessante karakter wat hulself inleef in hul spesifieke kultuur en sommer ’n lekker paar aktiwiteite saam met hulle doen.

En niks is te veel vir Shari nie! Sy gaan van vierwielmotorfiets tussen die leeus in Hoedspruit na Laingsburg om Tannie Poppie se roosterkoek te proe.

En as dit nie roosterkoek is nie, gaan Shari ook op ’n boot in die Wes-Kus om te hoor hoe die vissermanne se lewens verander het sedert hulle Abalobi begin het. Abalobi is ’n selfoon-app vir vissermanne.

Danielle McDonald, vervaardiger van die program, sê dit was ’n absolute belewenis om hierdie program te verfilm. “Ons het die land deurkruis en uiteenlopende karakters gevind en hul elkeen die geleentheid gegee om hulle spesiale deel van die wêreld vir ons in te kleur.

“Ons was deur die wildernisse van Limpopo, het die Kalahari na die reën in sy volle glorie beleef, die koue Weskus waters aangedurf en gevind dat die Klein Karoo alle verwagting oortref. ’n Skerpioen, paar slange en ses pap wiele later is ons uiteindelik tuis met mond vol stories wat ons ewig sal saamdra.”

Shari sê sy het nie werklik besef watter juwele op haar voorstoep wag tot hierdie program gemaak is nie. “Die geheim is om van die hoofweg af te klim en die klein dorpies en agterpaaie te verken. Wat ’n belewenis! Ek het myself tot my limiete gedruk en die lekkerste mense ontmoet. Ek kan nie wag om hierdie avontuur met die kykers te deel nie,” sê sy opgewonde.

Hokaai, My Meisie! word vervaardig deur Awemybru Productions.

Kom saam met Shari op die ekspidisie van ’n leeftyd na die uithoeke van Suid-Afrika, opsoek na wonderlike stories waar ander katvoet trap.

Hokaai My Meisie! begin 3 April 2021 om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.