Logo

Kokkedoortjie: Nou vir die finale hoofstuk!

Nuus
21 Junie 2017
Die tweede laaste Kokkedoortjie-hoofstuk is hierdie week voltooi.
Kok Koek Throwback Bill

Om die Kokkedoortjies se tweede laaste hoofstuk te skryf, het die beoordelaars gaan leen by een van dié bekendste kinderverhale: Alice in Wonderland.

Daar is van Christi, Christian en Edwin verwag om ’n fabelagtige ONverjaardagkoek – ’n koek wat regdeur die jaar geniet kan word, en nie net op jou verjaardag nie – te bak.

Twee van die versierings op die koek moes self deur die deelnemers gemaak word.

LEES: Bly kalm en eet koek

“Ons is drie seuns, en nou moet ons koek bak!” het Christi gesê. Hierdie Kokkedoortjie was egter verniet bekommerd, want hy is aan die einde van die uitdaging as koekbak-koning aangewys.

“Bak is definitief een van sy sterkpunte,” het beoordelaar Nic van Wyk gesê.

Volgens beoordelaar Mari-Louis Guy was Christi se vanieljekoek een van die lekkerste vanieljekoeke wat sy nóg geproe het. “Dit was sag, dit was klam, dit was botterig – dit was heerlik!”

Sy meen Christian en Edwin het baie na aan mekaar gelê ná die beoordeling.

Christian kén fantasie, het die beoordelaars gesê, maar hy moes ongelukkig vandeesweek sy sleutel ophang.

Volgens Nic was dié Kokkedoortjie se koek effe droog en die versierings, soos sy karamel-springmielies, het op die ou einde net nie bymekaar gekom nie. Die karamel, wat hy toe uit ’n blikkie moes gebruik het omdat hy dit nie self kon maak nie, het die springmielies laat “pap” word.

Mari-Louis het gesê Christian het die vanieljekoek wat die beoordelaars vir elke Kokkedoortjie gegee het in ’n sebra-koek omskep. Dis “wonderlik”, het sy gesê, “maar jy kry ’n spesifieke resep vir ’n sebra-koek”.

Die hope kleursel het uiteraard die “hele resep verander” en veroorsaak dat die buitekant van die koek kliphard was.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!