Logo

Kokkedoortjie: Mari-Louis se hoogtepunte

Nuus
28 Junie 2017
Mari-Louis Guy blik terug op haar tyd in die TV-kombuis.
Kok ML Hoogte Bill

Mari-Louis Guy (regs)

Met Kokkedoortjie se eindstryd op hande, kyk beoordelaar Mari-Louis Guy terug na haar ervarings op die reeks.

Deel met ons jou gunsteling-oomblikke tydens die verfilming van Kokkedoortjie.

“Ek is elke dag van my lewe bly dat ek hierdie ervaring kan hê. Regte knyp-myself-nou-blou geleenthede, al sal ek nou vir altyd bekend wees as die Kokkedoor-tannie.

“Met een eliminasie het ek op die vloer aan die huil geraak (seker nie ’n ‘gunsteling’ nie). Nic was vinnig by met sy groot gerusstellende drukkies. Toe ek skaam-skaam uitloop, kry ek my ma en broer snikkend in die besoekerskamer en Martjie [Malan] staan gesig-in-die-hoekie en snik. Die weerloosheid van die ouers bly my altyd by en dan ook die enorme besef by ons Homebrew-span, dat iets magical besig is om te gebeur.”

Wat was die moeilikste deel van die verfilmingsproses?

“Kyk, daardie pakkies wat ek dra is baie ongemaklik en ek is altyd uit pas uit met die weer: langmoue op ’n snikhete dag, ’n briesie van ’n hemp op ’n sneeustorm dag.

“Ek en Nic vergeet gereeld dat ons die heeltyd klank aanhet en soms hoor ’n honderd mense ons tussen skote gesels oor iets heel anders as wat op die vloer gebeur – ’n paar blosende oomblikke.”

Wat was jou gunsteling-tema?

“Ek hou van slim uitdagings, soos [met] Onverjaarsdagkoek wat meer van hulle geaardhede wys.

“Die pizza-episode was ook vir my sterk. Dit het ons as beoordelaars ook ’n geleentheid gegee om raad te gee en te verduidelik waar iets so eenvoudig as meel, gis en water soveel variasies kan lewer.”

Wat het jy by die Kokkedoortjies geleer?

“Om blitsvinnige mayonnaise te maak. Mikael en Edwin het sulle heerlike, vinnige, eenminuut-souse gelewer.

“Ek het by elke ouer iets geleer. Hedendaagse ouers, en hier is ek hoogs skuldig, wil die pad net gelyk maak vir ons bloedjies. Die teleurstellings van ons kinderdae [is] juis dit wat ons vandag sterk maak. Kinderjare is sterkwordjare.”

LEES OOK: Nic se hoogtepunte

Kokkedoortjie se finaal word op 28 Junie om 20:00 uitgesaai. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!