Logo

Kokkedoortjie: En toe was daar twee

Nuus
21 Junie 2017
Wat maak hierdie twee uiteenlopende finaliste wie hulle is in die kombuis?
Kok Christi vs Edwin Bill

Die Kokkedoortjie-finaal word op 28 Junie om 20:00 op kykNET uitgesaai.

Die Kokkedoortjie-beoordelaars, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk, verduidelik hoekom Christi en Edwin sulke magte is om mee rekening te hou.

LEES OOK: Nou vir die finale hoofstuk

Wat is Edwin se sterkpunte?

Mari-Louis: “Hy is ’n original – ’n sterk individu wat onafhanklik van sy ma besluite kan neem. Hy is goed bekend met sy instinkte en ’n sterk besluitnemer – as hy dink hy is op die regte pad, commit hy heeltemal. Hy ken homself en is pret, selfs onder druk.”

Nic: “Edwin is baie selfversekerd. Daar is nie baie goed wat hom afsit nie. Hy het nog daardie definitiewe ding van kindwees in hom. Hy is baie laid back, maar hy hou van wen.”

Is daar iets waarop Edwin kan verbeter?

Mari-Louis: “Sy opdiening kort aandag – dit sal goed wees as hy deur tydskrifte loer en sien wat is die nuwe tendense. Hy is lief om te speel en [met] langer uitdagings kan [dit] dalk moeilik wees vir hom [om] te konsentreer.”

Nic: “Soos hy groter word en beter word, sal hy leer om goed nog ’n bietjie meer te verfyn, om die kos ’n klein bietjie beter te laat lyk.”

Wat is Christi se sterkpunte?

Mari-Louis: “Hy is ’n regte foodie – ken sy kos, ken tendense en hy weet ook watter smake pas bymekaar. Hy het ’n lieflike geaardheid en ek dink hy maak werklik kos met liefde in sy hart. Sy opdiening is modern en hy het oulike idees.”

Nic: “Hy is verskriklik presies. Hy het altyd ’n goeie plan. Hy geniet dit om te kook. Die meeste van die goed wat hy maak, is goed wat hy al self probeer het. Hy verstaan resepte en tegnieke, wat op sy ouderdom eintlik amazing is.”

Is daar iets waarop Christi kan verbeter?

Mari-Louis: “Hy pak gereeld te veel aan en sit nie altyd genoeg klem op die belangrikste element van die taak nie.”

Nic: “Hy moet besef alles in die kombuis gaan nie altyd ’n honderd persent volgens plan nie en dan moet jy improviseer. Hy kan ’n klein bietjie meer relax in die kombuis. Dit sal in sy kos ook wys.”

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!