Logo

Kokkedoortjie: Dís waar Martjie se liefde lê

Nuus
14 Junie 2017
Martjie Malan gesels oor kinders wat kook en haar ervaring in die Kokkedoortjie-stoor.
Martjie Malan Billboard

Martjie tydens die finaal van Koekedoor

kykNET-kykers sal Martjie, wat gehelp het om die temas vir Kokkedoortjie te skep, herken as naaswenner van die eerste seisoen van Koekedoor. Sy is ook die eienaar van M Patisserie in Stellenbosch.

Martjie het hard agter die skerms van Kokkedoortjie gewerk om seker te maak elke uitdaging is goed uitgedink en straf genoeg (dis immers ’n kompetisie!), en het natuurlik tyd saam met die jong deelnemers deurgebring. Sy het ons meer van dié ervaring vertel:

Die Kokkedoortjies moet week na week onder druk, en boonop voor die kameras, kan kook, bak en brou. Hoe het die jong deelnemers dit ervaar?

Die ligte, bewegende kameras en personeel op die vloer het aanvanklik die deelnemers uitgedaag, maar sodra die fokus op die kos skuif en hulle herinner word dat dit ’n kompetisie is, het dit hulle nie juis gepla nie. Hulle wou net kosmaak of bak en het hulle fokus daarby gehou.

Is ’n bietjie druk en kompetisie gesond? Hoe is Kokkedoortjie anders as die ouer reekse waarop dit gebaseer is, Koekedoor en Kokkedoor?

Dit is goed om somtyds bietjie in die diepkant ingegooi te word. Om onder druk te moet presteer is nie maklik nie, maar dit leer vir die deelnemers om vas te byt, aan te hou en iets uit te voer. Dit is verseker gesond; dit bou selfmotivering. Die uitdagings is wel anders, maar die kompetisie bly steeds straf ongeag die reeks.

Hoe verskil Kokkedoortjie van internasionale reekse soos Junior MasterChef Australia, en waar is daar ooreenkomste?

Kokkedoortjie se uitdagings is gerig op die ervaringswêreld van ’n kind. Hulle maak grootmenskos, maar dit is van toepassing op hulle leefruimte. Daar word nie van die Kokkedoortjies verwag om soos ’n restaurantsjef kos te maak nie.

Wat is die rol van die ouers in die stoor?

Die ouers dien definitief as ondersteuning vir die deelnemers – hulle kan help, maar net tot op ’n sekere punt. Dan moet elke deelnemer staat maak op wat hulle saam beplan het, maar dit dan self uitvoer. Dit is duidelik dat daar mooi aan die ouer-kind-verhoudings gebou is in die stoor, en dit is spesiaal om dit te kon sien.

Het jy iets geleer by die Kokkedoortjies wat jy dalk self in die kombuis sal toepas?

Om te waag! Onbekende bestanddele, moeilike en selfs onbekende tegnieke vir my was nie vir die Kokkedoortjies ’n hindernis nie. Hulle het dit net bloot gedoen, sonder om in hulself te twyfel. Daardie onwrikbare vertroue dat dit sal uitwerk – die vasberadenheid – het my beïndruk.

Jy is ’n ma van drie en bied ook opvoedkundige kookklasse aan. Vertel ons meer van dié kookskool, en wat jy daarmee wil bereik.

Die doel van my kookskool is om kinders die lewenslange vaardigheid van kosmaak aan te leer. Ek wil kinders opgewonde maak oor kos. Ons leer van baie soorte kosse en daarmee die belangrikheid om goeie koskeuses te kan maak. Die kookskool leer ook meer as net kos: dit leer kinders om te ontwikkel op sosiale, motoriese, sensoriese en emosionele vlakke. ’n Kombuis is ’n ideale plek om te leer. Ons het ’n tuin waaruit ons groente en kruie gebruik in ons disse. Dit is vir kinders lekker om te plant en dit te sien groei en dan uiteindelik te gebruik in iets wat hulle self maak.

Dink jy ons gaan voortaan meer van jong kokke en bakkers hoor? Is daar meer en meer kinders wat dit agter die kospotte wil waag, en hoekom dink jy so?

Kos in die die kinderwêreld is besig om pos te vat. Daar is al meer kinderkookboeke op die rakke, selfs met kinders as outeurs, en televisieprogramme is ook baie gefokus op kos en kinders. Kos regoor die wêreld is ook ’n groot tema op die oomblik. Kos is belangrik vir mense, en om nuwe bestanddele te probeer en om kos uit verskeie lande te maak en uit te toets is iets wat mense aan die gang hou. Kinders is nuuskierig oor kos en wil meer en meer daaroor weet en dit self probeer maak.

As een van die inhoudsvervaardigers het jy gehelp om op die temas te besluit. Wat was vir julle belangrik tydens dié proses? Wat van die moeilikheidsgraad van die uitdagings?

Dit was vir ons belangrik om die leefwêreld van die deelnemers in ag te neem. Ons het daarop gefokus om hulle tuis te laat voel in ’n uitdaging, maar terselfdertyd dit uitdagend te maak. Die Kokkedoortjies moes kan wys dat hulle kan kosmaak sowel as gebak kan voorsit; dit behels beide tegniek en vaardighede in die kombuis. Ons was soms bekommerd of die deelnemers die uitdagings sou kon doen, maar hulle het ons telkemale verras.

Hoe was dit om aan Kokkedoortjie te werk? Vertel ons meer van die ervaring.

Kokkedoortjie was ’n groot ervaring, presies daar waar my liefde lê; kos en kinders! Om die uitdagings te skryf was somtyds moeilik. Dit moet interessant wees vir die kyker en doenbaar wees vir die deelnemer.

Dit was belangrik om die balans te behou. Dit moet uitdagend wees vir die deelnemers, hulle kreatiwiteit aanwakker en verskeie vaardighede toets. Die Kokkedoortjies het hulle goed van hul taak gekwyt; hulle het verras en beïndruk, en ek het baie by hulle geleer in die tyd toe ons op stel gewerk het.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!