Logo

Kokkedoortjie: Die nuwe generasie kokke

Nuus
21 Junie 2017
Riglyne vir ouers van kinders wat ook droom van sjef-wees.
Kok Errieda Raad Bill

Errieda du Toit, Kokkedoortjie se inhoudsvervaardiger, het nét die raad om die jongspan entoesiasties agter die kospotte te hou.

Hoe kan ouers hulle kinders in die kombuis aanspoor?

  • Begin vroeg. Voorskoolse kinders kan kleiner take verrig en mettertyd meer verantwoordelikhede kry.
  • Maak die kind deel van die beplanning.
  • Laat hulle dinge maak waarvan hulle hou om te eet.
  • Neem hulle saam om die inkopies te doen.
  • Hou die atmosfeer lig en gemaklik. As jy te gestres en ongeduldig is in die week, betrek die kind aanvanklik eers oor naweke of vakansietyd wanneer jy kan aandag gee.
  • Oumas en oupas is goeie leermeesters en baie geduldig met die kleinkinders, span hulle in.

Waar kan kinders inspirasie kry?

  • Kokkedoortjie bied wonderlike inspirasie.
  • Die Kokkedoortjie-deelnemers is al klaar rolmodelle.
  • Met die Kokkedoortjie-resepteboek sal die nuweling in die kombuis kan kies wat om te maak: maklike goed wat hulle op hul eie kan aanpak en ander gesinsgeregte om saam aan te pak.
  • Bestanddele in seisoen bied ook inspirasie.
  • Jou eie verbeelding en sintuie is die beste inspirasie.

Errieda du Toit

Wat kan ouers doen om hul kinders in die kombuis by te staan?

  • Moedig hulle aan, veral as dinge skeefloop. Kosmaak is nie sonder sy flops nie, maar so leer mens die beste.
  • Leer hulle van meet af die respek vir die kombuis, vir bestanddele en toerusting. 
  • Stel ’n voorbeeld met skoonmaak terwyl jy werk. Die kleiner kinders sal nog nie so netjies kan werk nie, maar sal mettertyd die waarde aanleer.
  • Skep ’n veilige omgewing met toerusting wat pas by die kind se vermoëns.

Is dit belangrik om op hoogte te bly van die jongste kosmodes?

Dis glad nie nodig nie – jy maak waarvoor jy lus is, eerder as wat die mode voorskryf. Die idee is juis dat jy leer om jou eie instinkte te vertrou en op jou eie te kan dink wat jy wil doen. Wees egter oopkop om nuwe bestanddele te leer ken.

Voltooi die sin: Jy weet jy het potensiaal in die kombuis as jy…

... dit geniet om jou eie ding te doen. Jy kan jou eie keuses maak en onafhanklik wees.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!