Logo

Kokkedoortjie: Die finale vier

Nuus
14 Junie 2017
Dit is geen verrassing dat die oorblywende kinderkokke so ver in die kompetisie gekom het nie.
Kok Vier bly oor Bill

Die vier oorblywende Kokkedoortjies van links na regs: Christi, Christian, Edwin en Mia

Op hierdie stadium van die wedstryd bly daar net vier deelnemers aan Kokkedoortjie oor: Mia, Christi, Christian en Edwin.

Die inhoudsvervaardigers: kos van Kokkedoortjie, Errieda du Toit en Martjie Malan, gesels oor of hulle ooit hierdie finale fase gesien kom het.

Het hierdie finale vier Kokkedoortjies reeds tydens die oudisies uitgestaan?

 

Martjie: “Dit [was] duidelik dat hierdie laaste vier deelnemers uithouers is. Moeite is gedoen om selfs die eenvoudige sonkant-na-bo-eier mooi af te rond en perfek gaar te maak.”

Errieda: “Die top-vier het toe al reeds hul merk gemaak en gewys hulle kan opdragte goed vertolk. Tussen die honderde kolwyntjies wat ek moes proe, kan ek steeds presies onthou hoe elkeen van die top-vier s’n gelyk en gesmaak het – en dat die kolwyntjies wat hulle gemaak het, werklik lewensgetrou aan hulle was.”

Wat was die oorblywende Kokkedoortjies se uitstaan-oomblikke tydens die reeks?

 

Mia

Martjie: “Mia se meesterburger was ’n hoogtepunt. Heerlike smaak-kombinasies was op ’n mooi en praktiese manier voorgesit.”

Errieda: “Mia het die ontbyt-episode oorheers met haar gekrummelde eiernessies en slim garnering. Sy het die geleentheid gebruik om te wys dat sy uitstaande tegniese vaardighede het, op hoogte is van kosmodes en verstaan hoe belangrik mooi garnering en aanbieding van geregte is.”

Christi

Martjie: “Christi se bobaas Wade van Niekerk-burger het hom in ’n sterk posisie geplaas. Die geure van volstruisvleis en teriyaki-sous was heerlik en iets nuut...”

Errieda: “...dik, sappige patty. Gekarameliseerde uie. Topklas monkey gland-sous! Christi het baie wye kombuiservaring en kan ewe goed bak as kook. Hoe moeiliker die uitdaging, hoe meer hou Christi sy cool en hoe beter beplan hy.”

Christian

Martjie: “Christian se trooskos, hoenderkorma, het die harte warm gemaak. Die gereg was baie goed deurdink en uitgevoer...”

Errieda: “...maar selfs beter was sy groot ronde focaccia-toebroodjie in die kosblik-episode. Dit was baie oorspronklik en vol van al die dinge wat almal wil eet.”

Edwin

Martjie: “Edwin se pannekoek-idee was tops; die diepgebraaide stringetjies plaatkoekiebeslag. Die soet- en soutkombinasies was heerlik saam met die stringetjies.”

Errieda: “Edwin het absoluut kop en skouers bo die ander uitgestaan in die entrepreneurs-uitdaging met sy monsterkoekies. Hy vertolk opdragte goed en ken sy eie tekortkominge.”

Wat lê vir hierdie deelnemers voor?

 

Martjie: “Die laaste been van die kompetisie verg goeie idees en konsentrasie. Dit is opwindend om te sien hoe die deelnemers vaar in gebak en versierwerk asook hoe om ’n eenvoudige gunsteling in iets nuuts op te tower.”

Errieda: “Die laaste uitdagings vereis balans tussen tegniek, fyn tydsbenutting en fantasie. Die finaal is natuurlik ’n toets van die beste onder die beste, ’n ware kragtoer.”

*Die top-tien Kokkedoortjies se oudisiekolwyntjies is almal in Errieda du Toit se Kokkedoortjie-kookboek, wat die rakke op 19 Julie 2017 sal tref.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!