Logo

Kokkedoortjie: Die finaal!

Nuus
28 Junie 2017
Hierdie week het ons gesien hoe Christi en Edwin dit uitspook in die Kokkedoortjie-finaal.
Kok 13 Finaal Bill

Die avontuur van ’n leeftyd, boonop in ’n baie unieke speelplek, het in vandeesweek se episode van Kokkedoortjie – die finaal waarvoor ons al weke lank wag – tot ’n einde gekom.

Edwin het vertel sy ma het aanvanklik gedink hy gaan in episode 1 uitval. “Ek het haar verkeerd bewys!” het hy gesê.

Volgens Christi wag hy al 13 jaar lank vir ’n kompetisie soos dié, omdat sy passie ongetwyfeld by kos lê.

Die pryse is gróót en die spanning het hóóg geloop. Die top-twee se finale opdrag? Beplan ’n driegang-spyskaart en lewer drie smullekker disse. Sjef Christi en Edwin het elkeen twee ure gekry om die opdrag te voltooi.

“Ek gaan kanse vat vandag,” het Christi gesê. Hy het ’n aarbei-en-bokmelkkaas-slaai, hoender-roulade met spinasie en feta en risotto met donkersjokolade gemaak.

Edwin se strategie was om eerder te bly by wat hy ken en wéét gaan werk. Hy het besluit op tuna-en-avokado-slaai, Cordon Bleu (steak met kaas en ham binne-in) met sampioensous en ’n sjokoladebruintjie-kersiepoeding.

Edwin het gesê hy dink Christi gaan wegstap met die kroon. “Ek voel baie bevoorreg om saam met Christi vandag te kook. Hy is ’n vreeslike goeie sjef.

“Maar ek gaan nog steeds probeer. Never give up!”

Christi meen nou weer Edwin is die “eksentrieke” soort en boonop ’n “spark wat enigetyd kan vlamvat.”

Beoordelaar Mari-Louis Guy het tydens die finale kooksessie gesê Edwin het die rou talent en Christi is meer geoefen. Hulle verskil soos dag en nag; soos son en maan, het sy gesê.

Kort daarna is die tafel gedek en het almal, beoordelaars, ma’s en sjefs, hul plekke aan die tafel ingeneem om te proe, te beoordeel en vir oulaas saam te wees.

Wat het die beoordelaars van Christi en Edwin se disse gedink? Lees hier.

Albei Kokkedoortjies stap weg met heerlike pryse, maar net een Kokkedoortjie kan met die titel wegstap, en dit is: Edwin!

Dit was moeilik om te besluit tussen die twee, het Mari-Louis na afloop van die aankondiging gesê. Sy meen die een spyskaart was meer interessant en die ander se spyskaart is beter uitgevoer.

Sy het verder gesê die feit dat Edwin sy instinkte gevolg het, het in sy guns getel.

Beoordelaar Nic van Wyk meen Christi hoef egter nie terug te staan nie. “Daar is ’n groot toekoms vir hom,” het hy gesê. “Ek dink hy het ’n ongelooflike talent.”

Hy het verder gesê die jong kokke wat hy deur die proses ontmoet het, het hom laat besef “ons kosmaaktoekoms” is in goeie hande.

Kokkedoortjie se finaal is op 28 Junie 2017 uitgesaai. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!