Logo

Kokkedoortjie: Bobaas-pizza

Nuus
14 Junie 2017
Hoe kan jy by die huis heerlike tuisgemaakte pizza maak? Die beoordelaars deel hul wenke!
Kok Pizza-wenke Bill

Wanneer jy poog om ’n smullekker pizza, wat soos jou gunsteling-restaurant-pizza proe, by die huis te maak, kan jy maar deeg gebruik wat jy sommer by die supermark kan koop. Só sê Kokkedoortjie-beoordelaar Nic van Wyk.

“Maar rol jou deeg so dun moontlik uit,” sê hy. Dit moet verkieslik ook op ’n baie warm bakplaat in die oond gaargemaak word, tensy jy gelukkig genoeg is om ’n pizza-steen by die huis te hê. “Daai hitte van onder af is baie belangrik, want dit seël jou basis,” sê hy.

Christi se Marokkaanse pizza met lam, jogurt, kruisement, babatamaties en eiervrug

Dié beoordelaar is ’n tradisionele man wanneer dit kom by pizza en eenvoud kry by hom die meeste punte. Bly dus weg van té veel bestanddele op jou pizza. Hy meen ’n pizza “kan twee of drie bestanddele ophê en ’n fantastiese pizza wees – solank jy ’n goeie sous maak.”

Christian se Mexikaanse pizza met boontjies, rissies en lekker baie kaas

Volgens Nic is jou kop deur wanneer jy ’n goeie basis, goeie kaas en goeie tamatiesous het.

So van tamatiesous gepraat: Beoordelaar Mari-Louis Guy meen dis nou hoogmode om rou tamatiepasta op die basis van jou pizza te smeer. “In die ou dae het jy mos gekook en gekook en gekook voor jy die sous opgesit het,” sê sy.

Edwin se Spaanse pizza met chorizo en rooi soetrissies

Haar raad is om jou blikkies tamatie – jou “mooiste, rooiste, rypste tamaties” gaan daarin – vir ’n rukkie af te kook, en net voor die einde voeg jy ’n “verskriklike hoeveelheid olyfolie” by – omtrent ’n halwe koppie. Kook dit dan deur, haal die pot van die oond af, skeur basiliekruidblare en voeg dit saam met origanum daarby “en dis dit”!

Mia se Franse pizza met ansjovis en gekookte eier

Kyk die video hier:

LEES OOK: Aardbol-pizza

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!