Logo

Kokkedoortjie: Aardbol-pizza

Nuus
14 Junie 2017
Die Kokkedoortjies het hierdie week om die wêreld gerits om heerlike pizza op te dis.
Kok Aardbol Pizza Bill

Nic van Wyk en Mari-Louis Guy

In hierdie week se opwindende episode van Kokkedoortjie moes die deelnemers elk ’n landsvlag trek (die vier keuses was Marokko, Spanje, Mexiko en Frankryk) en dié land as inspirasie gebruik om ’n smullekker pizza te maak.

Beoordelaar Mari-Louis het gesê die moeilikste deel van vandeesweek se uitdaging was om te weet op watter stadium is die deeg genoeg geknie. “Hoe moet die deeg lyk? Hoe lank moet dit in die oond wees? Hoe dik moet dit wees?” was alles vrae waarmee die deelnemers gestoei het.

Tydsberekening en beplanning was volgens beoordelaar Nic van Wyk ook belangrik. “Beplanning is soos nóg ’n bestanddeel in ’n resep,” het hy gesê.

LEES OOK: Bobaas-pizza

Daar is nie pizza-oonde in die Kokkedoortjie-stoor nie, wat beteken jy moes jou oond “so hoog as moontlik stel” en jou “bakplaat vuurwarm maak”, het Mari-Louis verduidelik. Só word ’n pizza, wat soos ’n restaurant-pizza proe, gebore.

Christi se Marokkaanse pizza met lam, jogurt, kruisement, babatamaties en eiervrug, het aan hom die titel van episode-wenner besorg – en natuurlik ook ’n plek in die top-drie.

Nic het gesê: “Alles op die pizza het sin gemaak. Alles het saam gewerk; dit was nie te veel gewees nie.”

Hy het verder gesê die smake was fantasties en Christi se pizza het baie mooi gelyk.

“Hy het regtig sy hart en siel in hierdie uitdaging gesit,” het Mari-Louis gesê. “Mens kon dit sien.”

Die kompetisie raak nou straf, maar Mari-Louis meen die beste jong kokke – Christi, Christian en Edwin – is oor.

“Ek is nou top-drie en die stres word nou baie erger,” het Christi na afloop van die episode vir ons gesê. Hy meen hy gaan voortaan op die kleiner besonderhede moet fokus, maar te alle tye net sy beste gee.

Mia het hierdie week “haar selfvertroue verloor”, het Mari-Louis gesê, en in haar hart geweet haar pizza-deeg is te slap. “Sy moes haar instinkte vertrou het,” het sy gesê. “Dis jammer, want sy het ’n interessante bolagie gehad.”

Volgens Nic het Mia tyd gehad om die deeg te red, so dis jammer dat sy nie haar pizza betyds in die oond kon kry nie.

“Dit was vir my ’n baie goeie ervaring,” het Mia agter die skerms gesê. “Ek dink ons almal het baie goeie vriende geraak.”

Sy het gesê sy het baie geleer, maar veral hoe om goed onder druk te werk.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!