Logo
Koffieboon
web uni tv guide

Koffieboon

144KosprogramPG

Koffieboon: Boeretroos op sy beste

Nuus
11 Junie 2018
Aanbieder Johrné van Huyssteen verstaan die behoefte vir ‘n goeie koppie boeretroos vroeg soggens, maar kan hy die perfekte koppie koffie maak? Kom saam met hom en leer meer oor koffie.
Koffieboon

Koffieboon is ’n splinternuwe kykNET-reeks wat gaan oor alles wat koffie aanbetref. Ons gaan hierdie spesiale drankie, én die brou van dié lekkerte, van naderby beskou. Unieke koffiewinkels, ’n kuier by bobaas baristas en geselsies met getroue verbruikers is op die spyskaart. Kom saam ons op reis deur Suid-Afrika om meer te leer van hierdie eeue oue bekoring as ook die hart wat daarmee saamgaan.

Johrné is ’n reeds bekende gesig op kykNET – hy is een van die aanbieders van GROOT Ontbyt, wat weeksoggende om 06:00 uitgesaai word. Hy is ook bekend vir sy rol as radio-omroeper van OFM. Verder is hy ook een van die stigterslede van die groep ddisselblom, en was vir vyf jaar aanbieder van die musiekprogram Gons op kykNET en MK.

Benewens sy radio- en TV-loopbaan is hy ook ’n gesoute joernalis, wat vir die Volksblad en DEKAT-tydskrif gewerk het. Hy tree gereeld op as seremoniemeester vir korporatiewe geleenhede en by kunstefeeste.

Om jou ’n idee te gee van wat voorlê in die reeks: Johrné proe spesiale Viking-koffie en smul aan ’n koffieburger by Industrial Coffee Works, ’n kreatiewe koffiewinkel in die hartjie van Gauteng. Die span maak ’n draai in Soweto waar fotografie en koffie sinoniem is met mekaar en wys jou hoe coffee in a cone een van die wêreld se gunstelinge geword het. Koffiesjokolade by 44 Stanley is op die lysie om te proe, gevolg deur ’n besoek aan die omgewingsvriendelike Coffee Talks net buite Bloemfontein.

As jy gedink het jy weet baie van koffie, gaan Koffieboon jou twee keer laat dink. Vars en met ekstra skop – nes die perfekte koppie boeretroos.

Vir 'n voorsmakie van dié opwindende titel, kliek hier.

Kry jou kykNET koffie-fix Woensdae om 17:30 vanaf 4 Julie op kykNET DStv kanaal 144.