Logo
Net Koffie 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Net Koffie

144LeefstylPG

Koffie-reeks reis na Colombië vir tweede seisoen – Net koffie 2

Nuus
10 September 2021
Net koffie, met Henriëtte Marx, begin op Sondag 3 Oktober 17:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Net koffie – Henriette Marx

Vir die tweede reeks van Net koffie met Henriëtte Marx word Colombië, die derde grootste koffievervaardiger ter wêreld, onder die vergrootglas geplaas. Die koffiekenner Henriëtte Marx, wat weer die aanbieder is, is vasbeslote om die beste koffie op die planeet te ontdek, maar sy soek ook na die hart – die kultuur, die mense en unieke natuurlike eienskappe – wat saam werk om hierdie aromatiese bessie so spesiaal te maak.

“Ek reis deur die land en ontdek die mooiste dorpies, kleurontploffings en spesiale mense. Die groen Andes-gebergtes groet my terwyl ek van die wêreld se beste koffie proe,” sê Henriëtte. “Ek ontdek iets kosbaar by elke koffieboer en keer op keer is die hart elkeen se familie.”

Terug in Suid-Afrika gaan bekendes leer hoe om ’n goeie koppie koffie te maak en selfs hoe om met koffie te kook. Die bekendes sluit in Janina Oberholzer, Jonathan Rubain, Gantane Kusch, Mike Bolhuis en Rudi en Marlice van Vuuren.  

Waar het Henriëtte al die lekkerste koppie koffie gedrink?
“Dit is waarskynlik die moeilikste vraag om te antwoord. Ek heg soveel waarde aan elke koppie koffie omdat daar soveel van ’n mens daarin is. Die hande wat die voorberei het, ware emosie, iemand se eie storie. Maar die lekkerste koppie koffie is die een waarvan jy die meeste hou en vir my is elkeen net te kosbaar om ’n spesifieke een uit te sonder,” sê sy.

Henriëtte sê sy glo nie daar moet te veel reëls wees wanneer dit by koffie kom nie.
“Jy moet jou koffie drink soos dit vir jou lekker is - of dit nou met melk en suiker of daarsonder is, of dit in ’n melkskommel is, of jy dit saam met whiskey drink, of jy daarmee bak of dit oor jou vleis gooi. Wees kreatief, maar as jy werklik die skoonheid van die plant en sy unieke smake en geure wil ervaar stel ek voor jy los die melk en suiker vir later ...”

Wat is die interessantste staaltjie wat sy al oor koffie gehoor het?
“Daar is soveel, soos die een van Mocha Java se geskiedenis wat ’n gunsteling is om te vertel,” sê Henriëtte. “Of die saam lag en luister hoe oupas en oumas hulle eie koffie op die vuur gerooster of gebrand het en bruinsuiker bygevoeg het. Ag nee, dis te moeilik om te kies, maar dit is juis hier waar ek besef hoe koffie oor die jare heen nie net staaltjies is nie, maar mooi herinneringe en samekoms. Dit is juis hoekom ek hierdie kosbare plant – blommetjie, bessie, boon – so lief het.”

Net koffie met Henriëtte Marx begin op Sondag 3 Oktober 17:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).