Logo

Koekedoor: Welkom in die biertent

Nuus
03 Junie 2016
Rugby en bier gaan hand aan hand, en ná vandeesweek se episode is dit halftyd in die Koekedoor-stoor – net vyf bakkers bly oor.
Koekedoor Ep8 1

Rugby en bier gaan hand aan hand, en ná vandeesweek se episode is dit halftyd in die Koekedoor-stoor – net vyf bakkers bly oor.

Die Koekedore neem hul plekke in die biertent in, want vandág gaan alles oor bier en die geure wat daarmee saamgaan.

Die tyd om te skrum is nóú en die deelnemers spring weg met hul eerste uitdaging: bierbrood – ’n ode aan die lang geskiedenis wat bier en brood deel.

Corli maak ’n bierbroodjie met mielies, kaas en spek, Kanya kies die kombinasie van rooibos en heuning en maak ook konfyt met tamatie en geel soetrissie, en Tara gebruik biltong en sterk cheddar. Sy maak ook uiekonfyt.

Sanet gebruik peer en bloukaas en maak ook ’n broodjie met appel, sider en bokmelkkaas. Mari-Louis spot: “Jy word gediskwalifiseer, want van wanneer af is ’n sider ’n bier?”

Wilandi kies spek, slaan uiemarmelade aanmekaar en Wessels gebruik kaas, rooipeper en gekapte biltong. ’n Lewe sonder bier “is soos ’n jaar sonder rugby,” sê hy.

Klik hier vir eksklusiewe resepte.

’n Ontspanne kuierplek is die Koekedoor-stoor se biertent egter nie. In die fyngebak-uitdaging bring Mari-Louis verskeie bakneigings byeen met ’n tert wat fynproewers se oë sal laat rek, maar baie tuis is in die biertent: ’n “pale toe”-biertjippietert met ’n kors van gerookte bief-aartappelskyfies, pretzels en graanvlokkies, en ’n swartbier- en sjokoladevulsel.

Die spanning loop hoog, want chakalaka-peuselneute, tuisgemaakte grondboontjiebotter, roomys en ’n bier-float moet ook nog gemaak word.













Kanya gee vir haarself “stilte voor die afskop” en Wessels lag wanneer hy die vreemde bestanddele sien.

Wat is die “mannetooisels” wat hulle moet oorstrooi? wil die Koekedore weet. Wessels meen dis pretzels. Tara dink dis iets soos ’n strooitjie met ’n snor.

Die tertvulsel wil eenvoudig nie stol nie, en Wilandi sukkel-sukkel en wikkel-wikkel op pad yskas toe.

Die pronkgebak is ’n bitter pil: pretzels. Die deelnemers kies elk ’n bier, en Tiaan verwag dat die pretzel en doopsous se smaakprofiel by die bier se mees prominente geure aanpas.

Kyk hier wat sê die beoordelaars oor bier en gebak.

Corli speel met pampoengeure (haar dogtertjie se bynaam is toevallig “Pampoen”). Sanet werk met piesang en kaneel, Kanya met koffie, roosblare en karamel en Tara met pomelo, kappertjies en wasabi.

Die kniewerk kry sommige van die deelnemers onder. “Dis soos om te stoei met ’n vark in ’n sak,” sê Wilandi.

Sy toor met beet en komyn en Wessels met grondboontjies, karamel en tropiese geure.

Die fluitjie blaas en die Koekedore hoor wie die meeste drieë gedruk het: Corli, Wilandi en Wessels. Wessels word as biertent-breker aangewys. Tara word die Koekedoor wat die stoor moet verlaat. “Sy’s ’n klein mensie met ’n verskriklike groot hart,” sê Wessels, en dit is moeilik om van haar afskeid te neem.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.