Logo

Koekedoor: Vrugtekoek vir ’n warm Kersdag

Nuus
27 Mei 2016
Vandeesweek op Koekedoor moes die Koekedore Mari-Louis se idee van ’n speculaas-koek met ’n vrugtekoekvulsel naboots as proeflopie vir Kersfees. Ons vind uit wat Tiaan en tannie Elizabeth te sê het.
Koekedoor_vrugtekoek

Vandeesweek op Koekedoor moes die Koekedore vir die fyngebak-uitdaging Mari-Louis se idee van ’n speculaas-koek met ’n vrugtekoekvulsel naboots as proeflopie tot Kersfees. ’n Moderne resep vir ’n tradisionele Kersfees – ons vind uit wat Tiaan en tannie Elizabeth te sê het.

Volgens tannie Elizabeth is die tradisionele vrugtekoek in Suid-Afrika ’n Europese idee. “Ek dink ons sit met die Europese gedagte van Kersfees omdat meeste van ons voorouers uit Europa kom. Die Franse, die Duitsers, Noorweë, Swede, selfs Italië en Spanje – almal Europese lande waar Kersfees in die winter gevier word,” vertel sy.

Sy verduidelik dat die patrone van Kersfees die ideologie van ’n koue, Europese Kersfees verteenwoordig en dat dit inslag gevind het in Suid-Afrika. “Die mooiste Kersprente- en patrone is van ’n Europese Kersfees afkomstig,” sê sy. “Die sneeu en die dennebome, en selfs die ryk koeke wat eintlik nie so tradisioneel is vir Suid-Afrika nie – dit is net te warm by ons tydens Kersfees.”



Tiaan sê egter dat Suid-Afrika ’n vernuwende uitkyk in die maak van ’n tradisionele vrugtekoek moet vestig. “Ek dink ’n hele paar jaar gelede was ’n vrugtekoek ’n ding wat jy ses maande voor die tyd begin maak het. Een keer ’n maand is daar ’n doppie brandewyn betrokke en dit raak ’n baie swaar koek – iets waarvan ek baie hou – maar ek dink deesdae is die mode om iets ligter te maak,” sê hy.

Volgens hom is ons leefstyl van so ’n aard dat ’n vrugtekoek gemoderniseer kan word tot iets wat ’n week voor die tyd gemaak kan word. Hy verduidelik dat dit belangrik is om “wyd” te dink wanneer dit by die bak van tradisionele geregte kom.

Vir hom speel vars bestanddele ’n belangrike rol in die vernuwing van vrugtekoeke. “Gebruik vars gedroogte vrugte, sny jou eie aarbeie en droog dit in die oond – selfs tuisgemaakte vrugterolle kan gebruik word,” sê hy. “Dit gee net ’n varser en ligter uitsig tot iets wat eintlik oud en nie noodwendig modern is nie.”

“Kersfees is ’n tyd van groot eet,” sê tannie Elizabeth en volgens haar het Suid-Afrikaners nie noodwendig ’n behoefte aan die tradisionele “Kerskoek” nie. “As jy jou vrugtekoek kort-kort brandewyn gee kan dit baie lank hou. Ek hou my vrugtekoek tot wintertyd en dan geniet ek hom.”

Die aande word langer, die dae korter en die kompetisie meer uitdagend. Ses Koekedore bly oor en niemand gaan vandeesweek huis toe nie. Daarom kan almal saam Kersfees vier.