Logo

Koekedoor: Troukoeke van toeka tot nou

Nuus
08 Julie 2016
Ons kyk na waar die wit troukoek vandaan kom, deel ’n troufees-staaltjie (’n troue sonder troukoek!) en ’n heerlike resep!
Koek Errieda Troukoek
Sodra die ja-woord gegee is, begin die bruid oor twee goed droom: die trourok en die troukoek.

Troues word al van antieke tye af met ’n spesiale koek herdenk. Vir goeie geluk het die Romeine koek oor die bruid se kop gebreek. Die gaste het krummels huis toe geneem vir hul eie geluk.

Dié krummels het later konfetti geword. Baie simbole en bygelowe is ook deur die eeue gekoppel aan troukoeke, soos dat ’n bruid nie haar eie troukoek moet bak nie.

Die wit troukoek kom uit die Renaissance-tydperk, voor die dae van harde versiersel, bekend as royal icing.

Die koek is warm uit die oond versier met ’n tipe meringue van eierwit en suiker. Nie net was die wit van troukoeke ’n simbool van reinheid nie, maar ook van status en aansien, want suiker moes drie keer verfyn word om dit so wit te kry en was daarom baie duur.

Harde versiersel is die eerste keer vir koningin Victoria se troukoek gebruik en het só die naam (royal icing) gekry. Die harde versiersel het die koek bewaar, sodat die boonste laag op die eerste herdenking of as doopkoek vir die eersteling gebruik kon word

Die tradisie om troukoek van baie lae te maak, met ’n spiraal bo, is simbolies van katedrale en kerke se torings, wat die gewyde verbintenis van die seremonie uitbeeld. Dikwels was die meeste lae net van versierde karton gemaak, met een eetbare laag.

Die afgelope paar dekades het troukoeke meer informeel geword en kontemporêre troukoeke word verpersoonlik in alle kleure, geure en vorms. Die belangrikste is dat dit heerlik moet wees, want dit word gemaak om te eet eerder as net vir vertoon.

Koeklose troue


Dit het tradisie geword vir Koekedoor om af te sluit met troukoek-bak. Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos vir Koekedoor, vertel dat die saamstel van die finale uitdaging haar elke jaar herinner dat sy 34 jaar gelede skoon vergeet het om ’n troukoek te laat bak vir haar eie troue.

Baie kos, baie mense, baie heildronke, mense van heinde en ver, Tant Koek se Hoenderhaan, ’n gewaagde grappie of twee en ’n troukoek wat hemel toe troon. Dís mos ’n boeretroue.

My eie trou-onthaal was ’n meer stigtelike oggendtee in ’n kerksaal vol vriende, familie en kinders. Ma het ‘platters’ van ’n Pick n Pay-spysenieringspamflet af gekies. Die bruidskoek het geskitter in sy afwesigheid. Ma’t gedog ek reël dit en ek dog dis op haar doen-lysie (die troue is oor ’n afstand gereël). Vier-en-dertig jaar later hou die troukoeklose huwelik steeds.

Vervoer-logistiek en gereedskapskis

Dit was ironies dat ons buurvrou se dogter Anel Franken mý sou vra om haar troukoek te maak. My eerste en laaste troukoek, glo ek. My man Ian reël die vervoer-logistiek Langebaan toe en sal sorg dat die drie koekvlakke waterpas-gelyk gestapel word, met ingenieurspresisie versterk. Hy pak ’n gereedskapkas van tange, bloemistedraad, hamers en houtstokke. In die proses ontdek ons sy verskuilde koekversiertalent.

“Hanteer die paletmes soos ’n troffel en die versiersel soos pleister” is sy raad vir ’n gladde afwerking.

Ons word ’n geoliede koekmasjien. Die huwelik verwag mos juis dat twee mense een wese word. Saam gaan soek ons vars blomme uit vir die koekversiering (ek is te dom vir suikerkunsblomme). Die woestynrosies kom uit die bruid se ma se tuin. Die plaasmense van Klein Namakwafontein by Piketberg pluk hul mooiste koningprotea en veldblomme wat net hierdie tyd van die jaar blom. By die Oranjezicht-mark loop ek my impuls-kopie raak, wit peonies, almal se lieflingsblom.

Gee en neem

34 koek errieda troukoek


My wederhelf maan my teen ‘oorversiering’, want hy ken my oordadige geaardheid. Ons tref ’n yin-yang-kompromie. Die bolaag en die silwer koekstaander word ’n blommetuin van fynbos, vetplante en peonies – die twee ander lae ’n studie in eenvoud.

’n Koektooisel (‘cake topper’, tipies van ’n troukoek) voltooi die sirkel. Ek plaas die hartjie waarop ‘mevrou’ staan bo-op en hy druk die ‘meneer’ in, ietwat voor die mevrou, maar laer ingesink. Gee en neem.

Die troue is hartlik, ek word gevra om ’n toespraak oor die troukoek te lewer. Die blommemeisies se rosekransies is lankal afgespeel, kortasem oor die wonder van die dag.

Feesmaal, eerste maal

Ons móét groot en geil eet by ’n troufees. Die moderne wêreld stroop ons toenemend van rituele, seremonies en ’n ryk gemeenskapslewe. Om getuie te wees van ander mense se groot oomblikke gee betekenis aan ons eie lewe.

Toe-oë toe kry ek berusting oor my en Ian se troukoek-lose bruidsonthaal met ‘platters’ vir troukos. Dit gaan nie oor wat op die koekbordjie of grootbord is nie, maar dat dit die eerste saameet is van die paartjie as getroud.

“Dis die beste dag in my lewe”, sê Bella, die blommemeisie en dogter van die bruid. Sy staan styf teen haar ma en nuwe pa toe die troukoek gesny word. Ek moet ook help om die pragstuk te sny. Die gaste staan tou, die komplimente stroom in.

Op pad huis toe ontdek ek ’n taai streep troukoekversiersel in my hare, ’n stil getuie dat ek deel was van ’n groot nuwe begin.

Resep: Pikgitswartsjokoladekoek met Nutella en wit botterversiersel


Errieda het hierdie pikgitswartsjokoladekoek met Nutella-vulsel, wit botterversiersel en vars blomme en vetplante versier. Dis vir enige feestelikheid geskik.

Die resep is deur Christine Capendale en maak ’n drielaag-koek van 23 cm. Vir ’n 30 cm-troukoek: maak die beslag dubbel aan en verdeel die beslag tussen 3 x 30 cm-koekpanne.

Koek

300 g meel
125 g kakao
5 ml sout
12,5 ml koeksoda
10 ml bakpoeier
500 g strooisuiker
5 eiers
5 ml vanieljegeursel
320 g karringmelk
180 g gesmelte botter
320 ml melk
Vir versiering: 1 fles Nutella-sjokolade-haselneutsmeer en botterversiersel

Metode

Smeer drie panne van 23 cm en voer uit met bakpapier. Voorverhit oond tot 180 °C.
Sif die meel, kakao, sout, koeksoda, bakpoeier en strooisuiker saam.
Klits eiers saam met die karringmelk en vanielje, voeg die gesmelte botter by en roer dit saam met die melk by die meelmengsel tot ’n beslag – dit is ’n redelike loperige beslag.
Verdeel die beslag tussen die drie voorbereide koekpanne.
Bak sowat 40 minute tot gaar. Koel af. Smeer Nutella en botterversiersel tussen die lae. Rond die kante en bo-kant af met die res van die botterversiersel. Die koek kan versier met gesmelte sjokolade-ganache wat by die kante afdrup en sjokolade-krulle, of versier met vars blomme.

Botterversiersel

1 kg versiersuiker, gesif
375 g botter
125 ml wit margarien (of Stork)
10 ml vanielje-ekstrak
2 ml amandel-essens
40 ml melk

Metode

Klits die botter en die margarien goed saam met die K-hegstuk van jou Kenwood-staanmenger tot lig en romerig. Voeg 1 koppie van die versiersuiker, die vanielje-ekstrak en die amandel-essens by. Klits goed saam. Voeg in 3 sarsies die orige versiersuiker by – klop eers op lae spoed en dan op hoog tot lig en romerig. Om meer smeerbaar te maak, gooi melk by soos nodig.

Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger: kos van Koekedoor en skrywer van die ‘Kokkedoor’- en ‘Koekedoor’-bakboeke, waarvan die nuutste ‘Koekedoor 2’ ook deur Human & Rousseau uitgegee word. Haar eie boek ‘Tuistafel’ verskyn in November. Volg haar kosblog Huiskok.com of op Twitter by @huiskok.