Logo

Koekedoor: Stories uit die spens

Nuus
14 April 2016
Catherine Eybers, hoof van die Koekedoor-kombuis, gesels met ons oor die pragtige stoor in Tulbagh se spens en hoeveel pakke meel tydens verfilming opgebruik is.
Catherine Eybers

Catherine Eybers, ’n talentvolle resepontwikkelaar, blogger en koskenner, het tydens verfilming aan die hoof van Koekedoor se kombuis gestaan. Nie net het Catherine en haar span (waarvoor sy ook mense betrek het wat in Tulbagh en die omgewing werk) seker gemaak die rakke in die spens is volgepak met alles wat die deelnemers mag nodig hê nie, maar hulle het ook na die Koekedore omgesien.

Soms was daar tot drie baksessies per dag en wanneer dit óók jou werk is om seker te maak die Koekedore se werkspasies word na elke sessie skoongemaak, maak vele hande ligte werk. Die spens moes elke keer nuwe voorraad kry, sê Catherine, so van die spanlede sou op die vloer bly “vir ’n vinnige turn-around”, terwyl die res die spens aangepak het.

Verder is die voorraad daagliks aangevul, veral met vars vrugte soos bessies. “Die borg, Pick n Pay, was baie behulpsaam,” sê Catherine. “Ceres se Pick n Pay het soms sommer kom aflewer, wat baie gehelp het.”

Op die Koekedoor-stel was die dae lank – soms van 06:00 tot 18:00, ander kere tot selfs 21:00. Elke uitdaging het spesifieke baktoerusting vereis, en Catherine en haar span moes seker maak alles van koekpan tot marmerblad (wat spesiaal in Stellenbosch vir elke deelnemer laat maak is) is op sy plek. “Die lys is oneindig,” sê sy.

34 catherine eybers

34 koekedoor 2 bts

34 koekedoor 2 workspace



“Wanneer hulle hul resepte beplan het, het ons gewoonlik by elkeen gaan gesels, sodat hulle weet wat beskikbaar is. Die spens is so vol; ek dink dit was oorweldigend.”

Hulle was ’n “klankbord” vir die deelnemers, meen Catherine. “Hulle toets net hulle idees – nie dat ons hulle kon help nie. Ons kon darem luister en hulle gerusstel wanneer hulle gesukkel het, veral met toerusting.”

Wanneer die kameras begin rol het, moes die span vinnig werk om seker te maak daar word aan die Koekedore se bestanddeel-behoeftes voldoen. Hulle moes ook skottelgoed was en spesiale toerusting bekom. Laasgenoemde het gewoonlik uit die Kaap en omliggende plekke gekom.

“Ek dink die interessantste deel van die verfilming is dat dit in real time gebeur,” sê Catherine. “Ek het altyd iemand gehad wat verantwoodelik was daarvoor om seker maak die basiese goed is in die spens, maar ons moes al na die plaaslike winkel jaag om gou iets te gaan koop – of dit nou ’n Peppermint Crisp of ’n piesang was.”

Interessante feite

’n Propvol spens en tientalle baksessies. Tydens die verfilming van Koekedoor het die deelnemers gebak dat die meel staan. Maar hoeveel liters melk en hoeveel pakke meel het hulle opgebruik?

34 koekedoor 2 spens1


• Meer as 200 l melk;
• Meer as 4500 eiers;
• Meer as 500 kg koekmeel – heelwat pakke bruismeel, broodmeel en ander meel is ook gebruik;
• Meer as 450 kg witsuiker – versiersuiker, strooisuiker en bruinsuiker uitgesluit;
• Minstens 30 kg bakpoeier;
• Minstens 350 kg botter;
• Sowat 40 kg donkersjokolade, 30 kg melksjokolade en 35 kg witsjokolade;
• Sowat 8 tot 10 kg se vars vrugte (verskeidenheid);
• Sowat 250 bottels (1 liter) van Olive Pride se “seed blend” en 144 bottels ekstra suiwer olyfolie.

Koekedoor is elke Donderdag om 20:30 op die kassie.