Logo

Koekedoor: Operakoek vir Mari-Louis

Nuus
20 Mei 2016
Vir vandeesweek se fyngebak-uitdaging moes die Koekedore Mari-Louis Guy se moderne weergawe van die klassieke Franse Operakoek naboots vir die musiekaand. Sy het haar wenke met ons gedeel.
Koekedoor_Operakoek
Vir vandeesweek se fyngebak-uitdaging moes die Koekedore Mari-Louis Guy se moderne weergawe van die klassieke Franse Operakoek naboots vir die musiekaand. Sy het haar wenke met ons gedeel.

Die Operakoek voer jou mee na die Palais Garnier, Parys se asemrowende operahuis. Daar word gesê dat die Franse patisseriesjef Cyriaque Gavillon ’n koek wou skep wat die perfekte balans van geure in een hap sou saamvat. Die verskillende koeklae het sy vrou laat dink aan die weelderige balkonne in die Operahuis, en so word die naam gebore.

“Toe ons inhoudsvervaardiger Errieda du Toit musiekaand noem, het ons almal natuurlik onmiddellik gedink Operakoek!,” vertel Mari-Louis. “Dit is moeilik om met so ’n bekende koek te speel en ons was so bly dat ons die lieflike spieëlafwerking in moderne kleure kon kies – dit is een van my gunsteling koeke, bloot omdat dit so ikonies is.”

Dié koek kan uit soveel as sewe lae bestaan en word tradisioneel met Joconde (amandel-sponskoek), koffiestroop, sjokolade-ganache en Franse botterroom-versiersel gemaak.

“Die Franse glo ook dat dié koek nie voltooi is voordat die woord Opera met ’n tikkie goud iewers ingewerk word nie” sê Mari-Louis.

34 koekedoor operakoek 22


Wat hierdie koek egter interessant maak is die ryk botterroom-versiersel, en volgens Mari-Louis maak dít die Operakoek baie meer uitdagend.

Sy verduidelik dat Italiaanse botterroom-versiersel uit eierwit, stroop en botter bestaan – dus eintlik ’n meringue met botter en volgens haar baie meer stabiel.

Die Franse botterroom-versiersel bestaan egter uit eiergeel, stroop en botter, wat dit anders as enige ander botterroom maak. Mari-Louis sê dat dié botterroom nie baie stabiel is nie, maar baie meer geur het.

“Wanneer ek die versiersel klop, gebruik ek ’n bekertjie en gooi die suikerstroop in ’n dun straaltjie naby die klitser – as dit op die klitser self land stol dit en jou verhoudings verander.

“Dan klits ek totdat die mengbak self by kamertemperatuur is”. Mari-Louis beveel aan dat geduld tydens dié stap van kardinale belang is. “Hier raak mense haastig en ruïneer die versiering,” sê sy.

“Dán eers klop ek die sagte botter in, gevolg deur die geursel,” sê Mari-Louis. “Met die Franse botterroom-versiersel is die stroop makliker en meer presies met ’n suikertermometer.”

Die Koekdoor 2-bakboek sal in Julie, na die einde van seisoen twee, op die rakke beskikbaar wees. Dit word deur Human & Rousseau uitgegee en die resep vir Mari-Louis se Operakoek kan daarin gevind word.