Logo

Koekedoor: Oliebolle vir die wêreld

Nuus
13 Mei 2016
Ons het met die Koekedoor-beoordelaar Mari-Louis Guy gesels oor vernuwing in die voorbereiding van oliebolle.
Koekedoor_oliebolle

In vandeesweek se episode van Koekedoor het die deelnemers die mark besoek, met die lekkerste gebak van regoor die wêreld. Ons het met Mari-Louis gesels oor vernuwing in die voorbereiding van oliebolle.

Daar is verskeie teorieë oor waar die oliebol (donut) eintlik vandaan kom. Die interessantste een is dat dit vir die eerste keer in die negentiende eeu deur Hollandse setlaars in Noord-Amerika gebak is, en vandeesweek moet die Koekedore in ’n dorpie met sterk Hollandse tradisie die oliebol moderniseer.

Volgens Mari-Louis is die oliebol deesdae meer as net ’n oliebol. “Hy is nou so in die mode,” het sy gesê. “Elke land het sy eie vorm van ’n donut. Ons koeksisters is maar eintlik familie van die donut – deeg wat diep gebraai is.”

Sy het verder gesê dat geure deesdae ’n vernuwing in die voorbereiding van oliebolle na vore bring en dat die oliebol ’n modegier raak wat die wêreld op hol het. “In Amerika in 1850 het hulle met spuitsakke begin, waarin die deeg gegooi is om donuts in massaproduksie te maak. Nóú is dit amper méér in die mode dat dit lyk asof jy die donut met die hand gemaak het – effens krom en skeef.”

Volgens haar is daar ’n nuwe tendens in Engeland wat met vulsel eksperimenteer. “Dis nie nou net meer appel- en bessiegeure nie. Nou sit jy verleidelike geure in, soos byvoorbeeld diep gemmer en selfs vleisgeure...

“Daar is deesdae lekker nuwe geure, soos byvoorbeeld sterk kaneelgeure, souskluitjiegeure, gemmersuiker, suurlemoensuiker, ensovoorts.

“Dis asof die hele wêreld alles aan die brand wil steek,” het sy gesê. “Heuning word nou selfs gerook – jy kook dit totdat dit daardie rookpunt bereik. Jy kan dit dan selfs in roomys en in koeke gebruik. Dit is absoluut fantasties.

“Baie gesoute donuts is nou ook in die mode – selfs spek word deesdae effens te ver gevat. Daardie subtiele tyd tussen lekker spek en spek wat amper gebrand is…”

Volgens Mari-Louis is die glasiering ook deesdae meer belangrik as die oliebol self. “Dis nie noodwendig soet glasiering wat deesdae gebruik word nie. Met bier wat nou meer artisanal geraak het kan jy bier bo-op sit. Jy kan soetwyn afkook en dit bo-op sit... daar is soveel vernuwing in produkte dat dit ’n fantastiese tyd is vir donuts.”

Koekedoor se Mari-Louis, Tiaan en Elizabeth deel hul wenke vir oliebolle. Kyk die video hier.