Logo

Koekedoor: Ode aan botter

Nuus
01 Julie 2016
Goed, beter, botter! Botter bly die hoeksteen van gebak, en in die tweede laaste episode van Koekedoor word daar hulde gebring aan dié bestanddeel.
Koekedoor Ep12 01

Goed, beter, botter! Botter bly die hoeksteen van gebak, en in die tweede laaste episode van Koekedoor word daar hulde gebring aan dié bestanddeel.

Tannie Elizabeth kies botterbroodjies vir die tuisgebak-uitdaging. Die beoordelaars is op soek na drie verskillende soorte botterbroodjies en tuisgemaakte botter moet ook blitsvinnig gemaak word.

Kry die resep vir Tannie Elizabeth se kaasbotterbroodjies hier.

“Dit kon ’n ode aan fondant gewees het,” sê Wessels. “Daar is baie erger dinge as botter.”

’n Rou skon is Sanet se grootste nagmerrie, terwyl Corli meen ’n botterbroodjie kan baie maklik anders uitdraai.

Corli kies sprietui en kaas vir ’n sout botterbroodjie, die kombinasie van ricotta en roosmaryn, en sy maak ook haar ouma se tee-botterbroodjies.

Vir haar tee-botterbroodjie gooi Sanet suurlemoen by melk, om dit amper soos karringmelk te laat smaak. Sy werk ook met die geure van lemoen, en voeg bosbessies en pekanneute daarby.

Wessels kies drie verskillende soorte meel, en kombineer bloukaas en vye vir een en sitrusgeure vir ’n ander.

Vir die fyngebak-uitdaging stel Mari-Louis die moeilikheidsgraad hemelhoog met ’n drielaag-génoise-sponskoek en outydse versiertegnieke met botterroomversiersel. Dié kunstige bottergeel koek vol kleurvolle spuitrose – en ’n kaktus – word gewy aan Frida Kahlo, die Mexikaanse kunstenaar met die blommekrans in haar hare wat kleur baldadig ingespan het, ten spyte van groot teenspoed in haar lewe.

Hy verstaan nie haar kunswerke nie, sê Wessels. “Ek verstaan sy moet haar pyn iewers wys, maar sy kan mos swart fondant gebruik… soos die res van ons.”

Wanneer dié Koekedoor bedruk lyk, is Sanet en Corli daar om die wysie van “Build Me Up Buttercup” in sy kop te plant.

Kyk hier na foto’s uit vandeesweek se episode.






























Die spanning in die stoor is byna tasbaar en wanneer die tyd einde se kant toe staan bly ’n paar blomme in die slag. Dis die semi-finaal, en vir die beoordelaars gaan die pronkgebak-uitdaging die deurslag gee.

Tiaan, wat opgelei is in die Franse patisseriekuns, gee in die reeks se laaste pronkgebak-uitdaging vir die Koekedore elk ’n drielaag-koekstaander vir drie soorte Franse teekoekies waarin botter onmisbaar is: madeleines, financiers en Breton-botterkoekies. Et voilà!

“Dis soos iemand wat jou in Parys aflaai en jy kan net Afrikaans praat,” sê Sanet. Die Koekedore slaan elkeen vinnig ’n sopie weg om te tjorts op die oorblywende drie.

Dan word dit tyd vir die Koekedore om te hoor wie dring deur na die finaal. “Dit was vandag vir my ’n groot eer om teen julle twee te kompeteer,” sê Corli. Sy en Wessels, vandag se botter-kampioen, gaan mekaar volgende week die stryd aansê, terwyl Sanet vandag die stoor groet.

Ons gesels met die beoordelaars.

Corli en Wessels het kort na die semi-finaal in die Flits-ateljee gekuier om oor hul ervaring te gesels. Kyk die video hier.

Skakel in vir die finale episode van Koekedoor, Donderdag 7 Julie om 20:30.

Herhalings word weekliks op Vrydae om 13:00, Saterdae om 16:00, Sondae om 10:00 en 22:00, Maandae en Woensdae om 10:30 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.