Logo

Koekedoor: ’n Pond kolwyntjies vir Elizabeth

Nuus
25 Mei 2016
In die vorige episode van Koekedoor moes die Koekedore pronk vir musiekaand, en eerste op die verhoog was tannie Elizabeth Cloete se klavierkolwyntjies. Ons het by haar uitgevind hoe om die perfekte kolwyntjie voor te berei.
Koekedoor Kolwyntjie 2

In die vorige episode van Koekedoor moes die Koekedore pronk vir musiekaand, en eerste op die verhoog was tannie Elizabeth Cloete se klavierkolwyntjies. Ons het by haar uitgevind hoe om die perfekte kolwyntjie voor te berei.

Die kolwyntjies wat tydens vandeesweek se uitsending voorberei is, moes swart en wit versier word om die note van ’n klavier te na te boots. Volgens tannie Elizabeth is dit egter moeilik om ’n wit botterversiersel voor te berei weens die gelerige voorkoms van botter.

Haar raad vir ’n spierwit botterversiersel is om gebruik te maak van bokmelk. “Toe ek pasgetroud was, het ons op ’n plaas in die Karoo gebly en daar het ons boerbokke gehad,” sê sy. “Dit is waar ek geleer het om te bak met bokbotter.” Deesdae verkies tannie Elizabeth “bokbotter” bo enige ander botter. “Dit is selfs lekkerder as beesbotter.”

(Sanet het musieknote en die sleutels van bladmusiek uit fondant vir haar kolwyntjies gemaak. Kry dié Koekedoor se resep hier.)



Haar wenk vir die beste botterversiersel is om te voorkom dat dit skif. “Maak seker jy klits éérs jou botter baie goed. Jy klits hom regtig totdat hy romerig raak, maar dit hang ook natuurlik af van jou resep of van wat jy spesifiek wil maak,” vertel sy.

Volgens haar het elke bestanddeel ’n ander doel. “Jy kan bietjie vir bietjie jou versiersuiker byklits, of jy kan selfs eiergele inklits net voordat jy die versiersuiker byvoeg. Jy kan die eierwitte ook klits en byvoeg. Dan raak die versiersel amper ’n tipe meringue – ­ dit is ’n heerlike versiersel.”

(Probeer gerus die Koekedoor Kanya se resep vir donkersjokolade-kolwyntjies met Amarula-stroop.)

Tannie Elizabeth se gunsteling vulsel was nog altyd karamel. Hoekom? Sy giggel terwyl sy verduidelik: “Ag man, dit is darem maar lekker. Al raak ’n mens groot bly daardie kind in jou altyd lief vir iets lekkers.

“Ek is ook mal oor ’n sjokoladekoek met ’n dadelvulsel,” vertel sy. “Ek het dit so leer ken in my ouerhuis en dit is vir my nog altyd baie lekker.

(Klik hier vir die Koekedoor Tara se resep vir sjokolade-kolwyntjies.)

“Ek hou ook baie daarvan om ’n tipe romerige versiersel met lemoengeursel voor te berei – wees dit lemoensap of lemoenskil. Ek is ook baie gaande oor ’n suurlemoenkoek, maar omdat suurlemoenkoek neig om baie suur te wees gooi ek gewoonlik ’n bietjie lemoensap by.”

Tannie Elizabeth sê verder dat die sukses van ’n kolwyntjie afhang van watter tipe koek gebruik word. “Ek stel voor dat jy ’n gewone sponskoek, of ’n gewone ‘amandelkoek’ soos Mari-Louis sou sê, te gebruik. Die ou mense het dit ’n pondkoek genoem, omdat jy ’n pond van alles vir jou beslag gebruik: ’n pond meel, ’n pond botter, ’n pond eiers en ’n pond suiker.”

Volgens haar is die pondkoek ideaal vir ’n heerlike kolwyntjie weens die ferm tekstuur daarvan. “Jy wil nie ’n koek gebruik wat te bros is of maklik breek nie.

“Jy kan ook jou beslag natuurlik manipuleer,” sê sy. “As jy ’n plat kolwyntjie wil hê, moet jy verhoed om jou beslag te veel te roer. Jou tekstuur is dan baie fyner.

“Om ’n kolwyntjie te bak met ’n horingtjie moet jy jou beslag baie roer – onthou, dan is jou tekstuur baie growwer weens die luggate wat vorm.”

Haar raad aan amateur-bakkers by die huis is om vooraf goed te beplan wat jy met jou kolwyntjie wil doen. “Jy kan nie net wegspring, begin bak en hoop vir die beste nie...” Volgens haar sal goeie beplanning rondom watter tipe koek om te gebruik, watter tipe vulsel om te gebruik en watter versiersel om te gebruik die sukses van jou kolwyntjie bepaal.

Ons het by Mari-Louis uitgevind hoe om die perfekte botterroomversiersel voor te berei. Lees meer hier.