Logo

Koekedoor: Mikrobrouery, die swart nommer in die kas

Nuus
03 Junie 2016
In vandeesweek se episode van Koekedoor besoek ons die biertent. Mari-Louis en Tiaan was opgewonde om hul kennis van gebak met bier met ons te deel.
Koekedoor - mikrobrouery 2

In vandeesweek se episode van Koekedoor besoek ons die biertent. Mari-Louis en Tiaan was opgewonde om hul kennis van gebak met bier met ons te deel.

“’n Bier is nie meer net ’n bier nie – lankal nie meer nie,” sê Tiaan. “Deesdae is daar ’n baie interessante verskeidenheid van biere wat verkrygbaar is, veral die mikrobrouery-biere.” Volgens Tiaan het elke bier “sy eie gevoel en smaak”.

Mari-Louis is opgewonde oor die moontlikhede met bier in die bak van brood. “Gebruik craftbier, sit ’n baie sterk artisan-cheddarkaas daarby en jy het ’n hele ander smaakprofiel,” sê sy.

Tiaan verduidelik dat daar ’n verskeidenheid van tegnieke is om die tekstuur en smaak van ’n bierbrood aan te pas. “’n Bierbrood is eintlik ’n relatiewe eenvoudige ding om te maak, maar mense moenie die bierbrood onderskat nie.

“Die gis in bier is alreeds aktief en jy kan dus brood bak sonder gis. Die proses gaan waarskynlik langer neem en ek weet vir ’n feit dat hoe langer ’n proses neem, hoe beter die ontwikkeling van smaak en geur.”



Volgens Mari-Louis bied bier ’n interessante smaakkomponent wat goed pas by enige gebak. “Omdat dit die dors les vind ek dat dit iets is wat jy by alles kan gebruik,” sê sy. “Dit is soos daardie swart nommer in jou klerekas – jy kan dit oral gebruik.”

“Baie koeke het deesdae bier in. Ek was onlangs gelukkig genoeg om die Guinnes-fabriek in Ierland te besoek. Hier het ons die wonderlikste geregte met bier gepaar – selfs koeke met bier in.

“Ek het gevind dat bier heerlik paar met sjokolade en ek self bak gereeld Guinnes-koeke met donkersjokolade,” sê sy. “Dit is absoluut heerlik.”

Tiaan vertel dat bier soortgelyk is aan wyn.“As jy dit eers proe en jy tel ’n spesifieke smaak op, soos byvoorbeeld heuning of fynbos, kan jy dit baie maklik saam met ’n kos bedien, of selfs ín kos gebruik.

“Goeie bier is soos goeie wyn,” sê hy. “Wanneer jy wyn in jou kos gebruik, is jou eindresultaat goed. Dieselfde behoort te wees met ’n bier – as jy ’n ordentlike mikrobrouery-bier in jou kos gebruik behoort jy ’n baie goeie eindresultaat te kry.”



Volgens Mari-Louis besef wynboere deesdae ook die waarde van bier. “Wat nou gedoen word is dat bier in verouderde kratte, soos bourbon-kratte of wynkratte, gebou word en dit plaas ’n heel nuwe dimensie op die geure,” verduidelik sy.

Haar wenk aan amateur-bakkers by die huis is om die bier in die beslag in te meng net voordat dit oond toe gaan. “Omdat die beslag baie taai is, roer ek die bier in met die agterkant van ’n houlepel en plaas dit dan onmiddellik in die oond.

“As jy ’n crusty bierbroodjie wil hê, maak dan eers jou pan warm in die oond, haal dit uit, plaas jou deeg daarin en plaas weer terug in die oond.”

Tiaan se raad is om nie die beslag te veel te meng nie. “Bak eerder jou brood teen ’n effense laer temperatuur vir ’n langer tydperk, omdat dit ’n digter deeg is en iets wat nie rys nie.

“Omdat dit iets is wat jy meng en onmiddellik in die oond kan sit sou ek aanbeveel dat jy dit bak vir ten minste 45 minute na ’n uur om te verseker dat dit regdeur gebak is.”

Vandeesweek se fyngebak-uitdaging bestaan uit Mari-Louis se “pale toe”-biertjippietert met chakalaka-peuselneute en ’n bier-float. Kyk hier.