Logo

Koekedoor: Ligte af vir die New York Blackout

Nuus
06 Mei 2016
In vandeesweek se episode van Koekedoor was dit ligte af en ons Koekedore moes stoei in die donker weens beurtkrag. Mari-Louis het met ons gesels oor haar fyngebak-uitdaging, die Brooklyn Blackout-koek.
Koekedoor 3

In vandeesweek se episode van Koekedoor was dit ligte af en ons Koekedore moes stoei in die donker weens beurtkrag. Mari-Louis het met ons gesels oor haar fyngebak-uitdaging, die Brooklyn Blackout-koek.

Met ’n baie eg Suid-Afrikaanse uitdaging moes die Koekedore bak sonder krag. Mari-Louis se “beurtkrag-koek” het die Koekedore behoorlik laat rondtas in die donker om dié fyngebak-uitdaging betyds te voltooi.

“Die Blackout-koek is vernoem na die Tweede Wêreldoorlog, gebruik om almal te vra om hulle ligte af te skakel en vensters met swart dig te maak,” het sy vertel.

“Die totale donkerte het ten doel gehad om oorlogskepe die Brooklyn-hawe te laat verlaat terwyl enige vyandelike vliegtuie letterlik blind vlieg.”

Sewentig jaar ná die Brooklyn Blackout-koek tydens die Tweede Wereldoorlog in Amerika gestalte gekry het, het agt Koekedore die kans gekry om vandeesweek Mari-Louis se weergawe in Tulbagh te bak. Gelukkig word niemand se kersie dié week uitgedoof nie.

Mari-Louis het gesê dat sy onnodige stappe in gebak voordurend probeer vermy: “Vir my gaan dit oor maksimum trefkrag. Hierdie outjie tick al die bokse.”

Volgens haar ontstaan die Brooklyn Blackout-koek by die bakkery Ebinger’s in die 70’s, “ongelukkig bankrot, maar hul resep is nog steeds die beste”.

Verder het sy gesê dat dié koek baie uniek is weens sy fluweel-afwerkings. “Die lae word bedek met romerige sjokoladepoeding – in die ou dae was dit ryspoeding, maar ons gebruik ’n heerlike gladde sjokolade-pasta.”

Die moeilikste deel van dié uitdaging is egter geduld; om te wag dat die koek en die poeding afkoel, anders kry jy ’n “modderstorting”.

Vir haar is dié koek baie spesiaal. “Ons het vir ’n paar jaar in Amerika gebly en ek het verlore-verlief geraak op hulle gebak – so verwyderd van die fyngebak van Frankryk,” het sy gesê. “Dit is robuust en altyd gereed vir ’n verandering.”

Sy het haar wenke vir amateur-bakkers by die huis met ons gedeel: “Ek sit poeding op elke koeklaag en laat dit só stol – individueel voordat ek dit stapel”.

Mari-Louis sê dat dié tegniek enige glyery voorkom. “Plaas die koek op ’n draadrakkie en bring die krummels koek toe, nie andersom nie!”

34 koekedoor brooklyn blackout 1

34 koekedoor 3



Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.