Logo

Koekedoor: Hier is die beoordelaars

Nuus
12 Maart 2015
Die meesterbakkers Mari-Louis Guy, Elizabeth Cloete en Tiaan Langenegger van Kokkedoor-faam is die beoordelaars van kykNET se nuwe reeks, Koekedoor.
Mari-LouisTiaanElizabeth-1024x688

Koekedoor, ’n bakkompetisie wat volg op die sukses van Kokkedoor, word van 12 Maart vir dertien weke op Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.

Die meesterbakkers Mari-Louis Guy, Elizabeth Cloete en Tiaan Langenegger van Kokkedoor-faam is die beoordelaars.

Lees meer oor Koekedoor.

Mari-Louis is ’n kookboekskrywer, koekbrood-ghoeroe en kosstilis. Sy en haar broer, Callie Maritz, is ’n skrywerspan uit wie se pen boeke soos Onthaal op groot skaal en Cakebread, Pudding & Pie gevloei het.

Sy en Callie is ook eienaars van die koekboetiek, Cakebread. Wanneer hulle nie dekadente koeke vir troues of partytjies optower nie, laat hulle groot name soos Checkers se produkte mooi lyk vir advertensieveldtogte (selfs lae-GI-kapokaartappels word ’n visuele treffer). Hul skeppings het al in ’n rits tydskrifte en in meer as 200 TV-advertensies verskyn.

Mari-Louis het as kind met die gasvryheidsbedryf kennis gemaak, en ’n besluit om later huishoudkunde te neem was die begin van ’n internasionale loopbaan.

Elizabeth is een van die vier beoordelaars op die beoordelaarspaneel van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland (VLVK).

Haar jare lange ervaring in die kombuis beteken sy het die kuns van bak bemeester, en haar geleerde oog mis niks nie.

Sy het haar B.Sc.-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en is ’n voormalige biologie-onderwyser. Sy is deesdae ’n boervrou in die Kraaifontein-omgewing.

Tiaan en sy spanmaat, Mynhardt Joubert, was in 2013 die wenners van die heel eerste seisoen van Kokkedoor. Hul kookboek, Makietie, het verlede jaar by Human & Rousseau verskyn en sluit aan by kykNET se gelyknamige kook- en onthaalreeks waarvan dié wenspan aanbieders is.

Tiaan het sy passie vir kosmaak op ’n jong ouderdom ontdek.

Hy het op 16 agter die kospotte begin werskaf en later sy fyngebak-sjefdiploma cum laude aan City & Guilds, ’n internasionale akkrediteerder vir sjefs, verwerf. In 2012, op 26, het dié meesterkok van Stellenbosch die titel van Unilever Foodsolutions Sjef van die Jaar losgeslaan en was hy Sunday Times se Jong Sjef van die Jaar.

Koekedoor-deelnemers gaan hom veral met nuwe tegnieke en vars idees beïndruk.

*Besoek die Koekedoor webwerf.

*Koekedoor is op Facebook en Twitter.