Logo

Koekedoor het nuwe bakliefling – en ’n kuiken skrop in die stoor

Nuus
08 Julie 2016
Die aand van die Koekedoor-finaal het behoort aan die wenbakker, Corli, maar kykNET deel ook opwindende nuus oor ’n nuwe kook- en bakreeks.
Koek Wenner Corli

Aan die einde was dit ’n troukoek wat die haan onder die henne se doppie geklink het toe Corli van Pretoria die Kapenaar Wessels geklop het in die eindrondte van Koekedoor 2, kykNET se werklikheids-bakkompetisie, wat op 7 Julie uitgesaai is.

By ’n spesiale geleentheid in Kaapstad, wat saamgeval het met die finale episode se uitsending op kanaal 144, het kykNET die wenner en naaswenner se pryse oorhandig, na die verrassende nuus van die nuwe kuiken Kokkedoortjie, ’n kook- en bakkompetisie vir kinders tussen 9 en 13 jaar.

Koekedoor 2, die bakboek met 120 resepte uit die reeks, wat in samewerking met Human & Rousseau uitgegee word, is ook by die geleentheid bekendgestel en is van 21 Julie op die rak.

Die aand het egter behoort aan Corli, die land se nuwe bakliefling. Die beoordelaars wat haar troukoek die ja-wood gegee het – Mari-Louis Guy, Tiaan Langenegger en Tannie Elizabeth Cloete – het beslis dat Corli se “mooi-van-buite”, netjies-afgewerke troukoek met keurige delikate versiering die ietwat rustieke, “mooi-van-binne”-koek van Wessels getroef het.

Daarmee wen sy nie net die titel as Suid-Afrika se beste amateurbakker nie, maar ook die grootste prysgeld ooit in ’n Suid-Afrikaanse bakkompetisie. Sy ry huis toe met die nuwe Suzuki Ciaz-sedanmotor, R200 000 kontant, ’n Human & Rousseau-kookboekkontrak, ’n Rolkem/Capsicum-suikerkuns-kursus van R50 000. (Haar kook- en bakboek, Corli se Kombuis, verskyn op 16 Augustus).



Naaswenner Wessels, wie se kalmte en kenmerkende koppie tee in die hitte van die stryd die beoordelaars en sy groot kring aanhangers deurgaans beïndruk het, kry ook ’n snytjie van die koek: R50 000 kontant van Safari Dried Fruit en ’n suikerkursus ter waarde van R35 000. Soos Corli, neem Wessels ook Kenwood-toerusting as prys in die eerste episode huis toe (wat die raserige een vervang het waarmee hy al jare lank bak en sy bure wakker gehou het).



Vir haar triomfantelike Delft-geïnspireerde troukoek het Corli haar kenteken-suurlemoen-en-jogurtkoek, vanielje-sponskoek en botterkoek afgewissel met vulsels en strope in geure van lemmetjie-schnapps, geroosterde klapper, witsjokolade-soutkaramel en grondboontjiebotter. Versiering wat soos blou borduurwerk en Delft-pastrone lyk is met die versierbuis en verfkwas geskep.

Corli het haarself deur en deur bewys as die ‘Survivor’ van die bakwêreld om na 35 uitdagings in dertien episodes steeds met soveel grasie staande te bly, reken beoordelaar Mari-Louis Guy, wat die tegnies-ingewikkelde fyngebak-bakuitdagings ontwerp het.

Hoewel Wessels se eerste troukoek lekker gesmaak het en die stempel van sy andersdenkendheid dra, meen Tannie Elizabeth Cloete dat Corli se smaak-kombinasies, versieringsvaardighede en afgerondheid van haar gebak die deurslag gegee het. Tiaan voeg by: “Selfs met ’n kompetisie soos hierdie vir amateurs sien ons hoe belangrik dit is dat bakkers wyd moet kan bak, met ervaring in tradisionele gebak, basiese kennis van gisgebak en brood en weet van nuwe baktendense en versiersingstegnieke wat nou mode is. So kan oud en nuut mekaar vind.”

Corli en Wessels het hulfself al in die reeks se openingsepisode onderskei toe hulle as episode-wenners aangewys is, onderskeidelik vir die beste bordjie soetgebak en beste soutgebak. Van die ander gebak wat deel van die uitdagings was sluit in ’n misterieuse Brooklyn Blackout-koek, outydse en moderne poedings, tradisionele vleispasteitjies, deftige pannekoek-stapelkoeke, bedrieglik-maklike sitrusterte wat bakkers ore aangesit het, ’n parmantige biertjippietert, nuwerwetse ooievaarskoeke wat geheime verklap, pronkerige pavlovas, pretpark-koeke oorgetrek in gewraakte swart fondant (wat steeds by hulle spook), stapels gebou van oliebolle, moderne hibried-gebak en ’n pretzel-muur.

Koekedoor is verfilm op Twee Jongegezellen-landgoed buite Tulbagh. Die ander deelnemers was Sanet van Saldanha, wat tot die semi-finaal deurgedring het, Kanya van Melkbosstrand, Wilandi van Port Elizabeth, Tara van George, Anja van Delmas, Suretha van Pretoria, Martie van Bloemfontein en Elmarie van Sasolburg.

Marguerite Albrecht, die opdraggewende vervaardiger van dié kykNET-reeks sê dat kykers die reeks omhels. “Dit gaan oor meer as net die gebak. Kykers vind emosioneel aanklank by die deelnemers, word geïnspireer deur hulle kreatiwiteit en word saam met hulle nostalgies oor die gebak waarmee hulle grootgeword het. Koekedoor-aanhangers is geboei deur die menslikheid, die lief en die leed, die suksesse en die flops, die trane, blydskap en pittige sêgoed.”

Nuwe kombuis-dansstappies soos die Tarentaal-dans het sosiale media laat gons, terwyl kykers hul waardering vir die gehalte van die produksie, kamerawerk, klankbaan en stelinkleding uitspreek.

Koekedoor is vir kykNET vervaardig deur Homebrew Films. Die reeksregisseur is Sanet Olivier. Chris Lotz is die regisseur vir fotografie, Harold Webster die produksie-ontwerper en Errieda du Toit die inhoudsvervaardiger: kos.

Pick n Pay is die hoofborg. Pryse in ander episodes was Kenwood-toerusting, ’n SMEG-gasstoof geskenk deur Olive Pride, houtware van My Butchers Block, Lekkeslaap-geskenkbewyse en ’n eetstel van Mervyn Gers Ceramics. Top-drie-wenner Sanet Eigelaar het ’n kunswerk van Alex Hamilton ontvang.

MEER OOR CORLI (WENNER)

Corli van Pretoria is ’n kranige entrepeneurbakster wat haar liefde vir bak van haar Ouma Corrie kry. Haar droom-onderneming Corli’s Kitchen is nou ’n werklikheid. Terwyl sy en haar rugbyspelerman Gary in Frankryk gebly het het sy die kans benut om verskeie Franse fyngebaktegnieke aan te leer. Hy en haar dogter Kaitlyne is haar grootste ondersteuners. Corli glo as jy met liefde bak jy dit in die gebak kan proe. “Bak het my nog altyd laat goed voel. Dit gee uiting aan emosie, dit stimuleer die sintuie, dis kreatief en natuurlik is dit die plesier om iemand te bederf met my gebak.”

Sedert die reeks se verfilming in Oktober 2015 voltooi is, het Corli baie tyd in haar kombuis deurgebring om haar prys-kookbook te finaliseer. Corli se Kombuis is ’n wenner soos syself en is propvol kos en gebak met haar stylvolle stempel. Die uitgewer is Human & Rousseau en die publikasiedatum is 20 Augustus 2016.

MEER OOR WESSELS (NAASWENNER)

Wessels moet sy gebak inpas tussen sy werk as klerk by die balju in Simonstad. Naas bak is tuine sy passie. Sy droom is om ’n koffiewinkel by ’n kwekery te bedryf. Hy begeer ook om eendag ’n tuin vir die Chelsea Blommeskou in Londen te ontwerp. ’n Groot sprong nader aan hierdie droom is dat Garden World in Muldersdrif, Johannesburg, hom genooi het om ’n Koekedoor-tuin te ontwerp vir die kwekery- en troubestemming se Lente-fees wat op 29 Julie vir die publiek open.

“Ek bak want dis die vinnigste manier om myself kreatief uit te leef; ’n tuin vat soveel langer. Met bak kan ek in 15 minute iets lekkers en mooi op die tafel hê.  Ek bak ook omdat die kragtigste deel van mens se herinneringe in jou smaak en reuksintuie sit. Ek bak om mense waarvoor ek lief is deur hulle resepte vir altyd te laat lewe.

MEER OOR KOKKEDOORTJIE



Na twee suksesvolle seisoene elk van Kokkedoor en Koekedoor brei kykNET die handelsmerk uit met Kokkedoortjie, ’n nuwe werklikheidsreeks vir kinders tussen die ouderdom van 9 en 13 jaar, wat in die Kokkedoortjie-stoor gaan kook en bak. ’n Nabye familielid (ma, pa, broer of suster bo 18, ouma of oupa) moet die jong deelnemer vergesel en vorm deel van die kompetisie.

Die twee beoordelaars vir die 13-episode-reeks is Sjef Nic van Wyk van Kokkedoor-faam en Mari-Louis Guy van Koekedoor.

Inskrywingsvorms word ingewag en sluit op 8 Augustus, waarna oudisies van 23 tot 26 Augustus in onder meer Kaapstad en Johannesburg gehou word. Kokkedoortjie word van 30 September tot 8 Oktober tydens die skoolvakansie in Kaapstad geskiet.

Die opwindende nuwe reeks, met sy sterk klem op vermaak vir die hele gesin, word vervaardig in opdrag van kykNET deur Homebrew Films, wat ook Kokkedoor en Koekedoor vervaardig.

Lees meer oor Kokkedoortjie hier.