Logo

Koekedoor: Halfpad klaar, halfpad daar

Nuus
10 Junie 2016
Die deelnemers is by die halfpad-merk en dít word hierdie week op Koekedoor gevier in ’n kitsch-mooi stoor.
Koekedoor Ep.9 1

Die Koekedore is by die halfpad-merk en daar is rede om fees te vier.

Die oorblywende vyf deelnemers stap vandag by ’n kitsch-mooi stoor in, waar Tannie Elizabeth ’n keramiek-kat staan en vryf. Sy kondig die tema vir dié week aan: “halfpad klaar is halfpad daar.”

Die Koekedore het vandag ’n verskeidenheid van halfklaar produkte tot hul beskikking, en die beoordelaars kies uiteenlopende gebak uit ander eras en bakkulture vir die geleentheid.

Vir die tuisgebak-uitdaging gooi Tannie Elizabeth die bal met ’n kurwe na muffins, met die vereiste dat dit ’n gesonder ontbythappie moet wees. Die muffin word gewoonlik as die kolwyntjie se lelike niggie afgekraak, maar vandág kry dit end.

Hy voel “soos Sneeuwitjie in die bos,” lag Wessels, omring deur ’n paar kitsch-kreature.

Sanet sê: “Met alle respek, dis nie iets wat ek graag in my huis of in elk geval op my kombuistafel wil hê nie.”

Corli dink vandag aan haar tannie Annatjie se Carletonville-huis.

In vandag se tyd is alles vars of organies, sê Kanya, wat beteken die Koekedore moet ’n belangrike kopskuif maak om goed te vaar in die uitdaging. Sy kies fyngemaakte biltong en mieliepitte.

Wilandi gebruik spek en appels (uit ’n blik) en Sanet besluit op klaargemaakte basiliekruid-pesto, ingelegde olywe, wit cheddarkaas en sprietui. Coli kies ook basiliekruid-pesto en kombineer dit met tamatie en feta, terwyl Wessels mieliemeel-, volkoring- en kaas-en-mosterd-muffins aanpak.

“As jy versiersuiker opsit is dit ’n kolwyntjie, en as jy nié versiersuiker opsit nie is dit ’n muffin,” sê Wessels. “Mense weet nie meer wat is wat nie.”

Hy voel vandag soos die muffin man van Drury Lane, want wanneer daar nog baie tyd oor is, bak hy net nóg muffins.

Mari-Louis se vriendin sê altyd: “’n Muffin is ’n cupcake in ’n skoolrok, en ’n cupcake is ’n muffin in ’n aandrok.”

Vir Sanet voel dit soos stilte voor die storm. “Dit gaan begin warm raak,” sê sy.

Kyk hier na foto’s vanuit hierdie week se episode van Koekedoor:




















Vir die fyngebak-uitdaging word ons in ’n tydmasjien teruggevoer na die 1970’s. Op die spyskaart is Mari-Louis se Skandinawiese Smörgåstårta (’n sout toebroodjiekoek versier soos ’n soet grootkoek) en semlor of semla (’n Sweedse soet broodrolletjie met ’n kardemomgeur, wat in ’n poedingbakkie met geklopte room en warm melk bedien word).

Dis broodbak met ’n kinkel en beide brode gaan ewe lank neem om gaar te bak in die oond. “Tyd is knap vandag,” sê Mari-Louis, en die Koekedore moenie te veel tyd aan die vulsels afstaan nie.

“Dis soos ’n vet burger-brood,” verduidelik Sanet.

Só eet sy die olifant, “hap vir hap,” sê Kanya. Corli meen dis die mees uitdagende fyngebak-uitdaging wat die Koekedore tot op hede moes uitvoer.

Die pistasieneute word een-vir-een afgedop en Wilandi voel soos ’n budgie. “Dis ’n koek met ’n identiteitskrisis,” sê sy.

Hy is “so rustig soos ’n tydbom,” sê Wessels. Later waai dié Koekedoor se hoed, en dit raak eenvoudig té warm en té dol in die stoor.

Die pronkgebak-uitdaging is ter viering van filo. Dié 800 jaar oue papierdun deeg het eers in die 1970’s op winkelrakke verskyn. Die beoordelaars voorsien die filodeeg, en die Koekedore moet dit in ’n formidabele filo-skepping omtower.

Sanet maak filo-“bakke”, wat inmekaar pas. Sy kies sjokolade en koffiegeure as vulsels, en maak onder meer bruintjies, sjokolade-koffiebone en filo-blomme.

Wilandi sê: “Die melktert kan doen met ’n bietjie mooimaak.” Sy verf die filodeeg met bruinbotter, en plaas die filodeeg bo-op melktertpap. Sy maak ook ’n kaneelsousie.

“Ek gaan moet kyk of my melktert se pronk daardie roomkoek in die skadu kan laat,” sê sy.

Corli maak ’n soort vlaskyf, of “filo-paleis”, en elke laag bevat verskillende geure. Sy maak pistasieneut-koek, wat tussen twee lae van haar filo-skepping gaan pronk.

Kanya hou van die eenvoud van die gewone baklava. Sy kies suurlemoen, kardemom en roosgeur, en maak “pype” uit filo. Sy maak ook filo-rose.

Wessels kombineer strudel met Griekse nagereg. Sy filo-“wurm” kry ’n sponskoek en gebakte vla in die middel.

“Ek voel soos ’n olifant in ’n glaskas,” spot Wilandi. “Ek en filo het mekaar tot vandag toe nog nie rêrig geken nie.”

Kanya trek by ses rolle filodeeg en Wessels by vyf. Daar is nou ’n kompetisie tussen dié twee, sê Kanya.

Kry eksklusiewe resepte hier.

Ewe skielik kom daar ’n aankondiging: Die Koekedore het tien minute oor om hul skeppings voor te sit. Die deelnemers spartel, en dan sê die beoordelaars: Dit was net ’n grap.

“My bene was lam,” lag Kanya.

Dan breek die tyd om op te hou bak werklik aan en die Koekedore moet wag om te hoor wie word huis toe gestuur.

Wessels is die “halfpad klaar, halfpad daar”-kampioen, terwyl Wilandi die stoor moet verlaat. “Ek het baie geleer van myself,” sê sy.

Kyk hier wat sê die beoordelaars.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30 op kykNET.