Logo

Koekedoor: Groot oomblik-gebak

Nuus
17 Junie 2016
Dié week vier Koekedoor die belangrikste dae in ’n vrou se lewe, en die deelnemers bak vir ’n kombuis- en ooievaarstee, asook ’n wittebrood!
Koekedoor_1

Net vier Koekedore talm nog in Tulbagh, en in die stoor is dit net Tannie Elizabeth en Mari-Louis wat op die deelnemers wag.

“Ek het half underdressed gevoel,” sê Corli.

Tiaan kom ingestap met ’n skinkbord – gereed om die dames op sy hande te dra. Die biertent-episode het op mannegebak gefokus, sê hy, maar gebak vir vroue is dié week die spil waarom alles draai.

Vandeesweek se tema is “groot dae in ’n vrou se lewe”. Vandag is dan ook ’n belangrike dag in die Koekedore se lewens, want niemand word huis toe gestuur nie. Boonop stap die episode-wenner weg met ’n Mervyn Gers-prys ter waarde van R25 000.

Die tuisgebak-uitdaging bring ode aan die kombuistee. Die tradisie is gewoonlik dat elke gas ’n resep vir die bruid saambring (want “dan is ’n mens mos nog nie ge-konfyt in die kombuis nie,” sê Elizabeth). Só is die Koekedore gevra om elk ’n staatmaker-resep vir die kombuistee te bring, en gaan hulle vandag mekaar se resepte toets om uit te vind hoe flatervry dié resepte werklik is.

Wessels trek Kanya se resep, ’n amper-Florentyne. Kanya gaan Corli se suurlemoentert-resep toets, terwyl Corli Sanet se sjokolade-bruintjies gaan bak. Laaste aan die beurt is Sanet, wat Wessels se melktert trek.

Kanya sê: “Ons is almal koek-vriende. Ek hoop Wessels verstaan wat ek bedoel.”

Wessels “voel vandag soos ’n eend uit die water.” Boonop moet dié Koekedoor homself tuismaak in Kanya se kombuis en Kanya meen dit “ontsenu” hom effens.

Corli spot: “Die lewe is nie altyd hoe ’n mens wil hê dit moet wees nie.”

Wessels sê vir Kanya: “Ek is nie so seker of jou koekies gaan werk nie, vrou. Dit lyk vir my maar dodgy.”

Kanya het weer ’n paar vrae vir Corli, wat vergeet het om die temperatuur van die oond aan te dui.

“Wat ’n prettige episode!” sê Tannie Elizabeth. Mari-Louis lag: “Ek drink gereeld tee in ’n aandrok 11:00 in die oggend.”

Sanet peper weer vir Wessels met vrae, omdat vanielje een van die bestanddele is, maar dit nêrens onder metode geskryf staan nie.

Wessels meen hy is omring deur drie uiteenlopende, merkwaardige vroue: Corli is ’n regte dame (“prim en proper”), Kanya is mededingend en innoverend en Sanet, as ma van twee seuntjies, is ’n “dapper vrou”.

Kyk hier onder na foto’s vanuit die episode:




























Haar troudag is seker dié belangrikste dag in ’n vrou se lewe, maar vir die fyngebak-uitdaging word daar nie troukoek gebak nie.

Die Koekedore bak vandag ’n romantiese wittebroodkoek, wat deesdae as ’n “kamerkoek” vir twee ’n gewilde instelling by troues raak. Geskoei op ’n Persiese liefdeskoek, laat Mari-Louis se skepping die koors hoog loop met engelhare (Turkse suikerwerk), ’n tipe spookasem wat met die hand uit gekookte suiker getrek word.

Dis ’n lemoenkoek (“ietsie oud,” sê Mari-Louis), waarvan die buitekant nie versier word nie (’n “naakte koek”), en dis met melkversiersel gevul. “In die ou dae was versiersuiker skaars,” sê Tannie Elizabeth, “so iets moes gebruik geword het.”

Die koek word ook versier met onder meer Turkse “toot”-lekkers, wat die bakkers tot agter die ore soet laat.

“Hulle noem dit liefdeskoek, maar daar is hare op,” sê Wessels. “Darem suikerwerk,” sê hy, maar “koek” en “hare” word steeds in dieselfde sin gebruik.

Sanet begin met die lemoenkoek – ’n vreemde beslag, omdat al die bestanddele saam in ’n bak gaan en vir 6-8 minute gemeng word. As iemand in dié Koekedoor se familie trou, spring almal aan die werk, sê sy. Haar eie troukoek is deur haar ma gebak en deur haar niggies en nefies versier.

Haar man gaan nou baie kwaad wees vir haar, sê Corli, “maar ek het nog steeds nie ’n wittebrood gehad nie!”

Sy melkversiersel lyk soos houtlym, spot Wessels. Hy is die “breker van die biertent” en “die koning van kitsch,” sê hy. “Ek weet nie of ek nou die baas van chaos en hare is nie.”

Die koek is veels te klein vir alles wat daarop moet pas, meen Kanya. Maar dan is dit tyd vir die deelnemers om hul wittebroodkoek daar te laat.

Corli lag én huil. “My koek is klaar!”

Ná die kombuistee en wittebrood, kom nóg ’n groter gedoente: die ooievaar.

Die pronkgebak-uitdaging bring die vraag ‘is dit ’n dogtertjie of ’n seuntjie?’ na die ooievaarstee toe. Die nuwe neiging is om die antwoord te openbaar met ’n koek wat die baba se geslag onthul wanneer dit gesny word.

Wessels vertel hy was “teleurgesteld” toe hy vir ’n seuntjie gevra het of hy vir hom ’n Spider-Man-koek kan bak, en die seuntjie toe sê hy hou meer van Iron Man. “Ek dink ek wil dit eintlik net vir myself bak,” lag hy. “Miskien is ek Spider-Man…

Corli sê: “Dink Wessels hy’s Spider-Man?

“Nee, Wessels is alles behálwe Spider-Man!”

Wessels sê: “Ek dink ek kan. Ek dink ek is oulik genoeg!”

Hy maak ’n sponskoek, gemmerbrood, toffieappels en rond dit af met ’n filo-lint, waarin die geslag versteek is: ’n dogtertjie.

Kanya bak ’n sjampanjekoek met ’n Switserse botterroomversiersel en koekstokkielekkers. ’n Blou hartjie klop in ’n witsjokolade-balletjie in die middel van die koek.

Sanet kies ’n sjokoladekoek en maak botter met onder meer Oreo-koekies. In die middel van die koek verklap ’n koekie die geheim: dis ’n seuntjie!

Corli maak ’n suurlemoen-jogurt-koek en ’n rolkoek vir binne-in. Die rolkoek binne-in is blou gekleur.

Dan is dit tyd vir die groot onthulling. Tannie Elizabeth bedank die Koekedore: “Dit was lekker om weer te voel ek is jonk.”

Niemand gaan huis toe nie, maar die episode-wenner, en wenner van die Mervyn Gers-prys, is Kanya. Sy was vandag “weer op die grond,” sê sy, “maar dit was lekker. Ek wil hier wees vir so lank as moontlik.”

Die beoordelaars gesels oor dié week se drie uitdagings.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.