Logo

Koekedoor: Finaal – Die Troukoek

Nuus
08 Julie 2016
In Koekedoor-tradisie word die finaal beklink deur die koningin van gebak, die koek der koeke: die troukoek.
Koekedoor Finaal1

In Koekedoor-tradisie word die finaal beklink deur die koningin van gebak, die koek der koeke: die troukoek.

Die geleentheid is ’n troue in Tulbagh, die “Land van Waveren”. Waar die Koekedore tot dusver hul eie stempel op die skeppende pronk-uitdagings kon afdruk, moet hulle dié week die wense volg van die bruid waarvoor hulle die koek bak.

Die koek moet ook inpas by die troue se tema: “Die Kaap is weer Hollands”. Só is die beoordelaars op soek na ’n tradisionele wit koek met Delft-inspirasie en ’n spatsel kleur.

Toe hy ‘troukoek’ hoor het hy homself “asvaal geskrik,” sê Wessels, wat nog nooit gewaag het om ’n troukoek te bak nie. Die Koekedore, wat 34 uitdagings agter die rug het, het twee dae om die uitdaging te voltooi.

Corli se ma, Ria, meen dis mooi om te sien hoe Corli haar ouma ken in alles wat sy aanpak. Aan Wessels se kant is dieselfde waar. Hy vertel hoe hy wou leer lees sodat hy kon weet wat sy ouma neerskyf, “sodat ek dit kan bak.”

Corli bou ’n “Parys-toring”. Sy maak onder meer botterkoek, vanielje-sponskoek, klapperkoek, suurlemoen-en-jogurtkoek (spesiaal vir Tannie Elizabeth), ’n sout-karamel-vulsel en lemmetjiestroop, en trek die vyf lae van haar troukoek oor met wit fondant. Sy kies lemmetjiegroen as haar spatsel kleur.

“Hoe gaan ek kophou?” sê sy.

Corli is vir hom “gevaarlike kompetisie”, sê Wessels, maar hy dink hy kan haar op ’n paar gebiede klop. “Waar sy amper perfek is, is ek ’n bietjie mal,” sê hy.

Hy kies ’n verfkwas bo ’n spuitsak, om Delft-teëltjies mee te verf. Geel is sy blapsie kleur, en hy bak onder meer suurlemoenkoek, grenadellakoek, witsjokolade-en-frambooskoek, ’n Jack Daniels-koek en klim weer “terug op die perd” met die génoise-sponskoek wat hulle in die vorige episode moes bak.

Kyk hier onder na die foto’s:

































Dit voel vir haar asof hulle vandag van die een stasie na die ander dans, sê Corli. Dan werkskaf sy hier, en dan weer daar – en sy lag wanneer Wessels die tyd het om sy laaste koppie tee in die stoor te drink.

“My ouma sê ek is ’n hans Khaki,” sê Wessels. Corli sê: “Nou het ek alles in hierdie stoor gesien!”

Dis net Corli se roomyskoeke wat omval, spot Wessels. Corli meen hulle twee het ’n gelyke kans om te wen.

Hier en daar is daar oomblikke wat die Koekedore twyfel. Corli se fondant skeur en Wessels se tyd vir versier hardloop vinnig uit.

Al waarin hy belangstel is om ’n koek op die tafel te kry, sê Wessels. Dié koel en kalm Koekedoor gesels min, en dít ontsenu Corli effens.

“Ek was nog nooit in my lewe so gespanne nie,” sê Corli. Sukkel jy soos ek? vra sy. “Jy het geen idee nie,” sê Wessels. Sy koek het “haelskade”.

“Niemand wil tweede wees nie, maar tweede is beter as derde,” sê hy.

Dan, so vinnig soos wat die baktyd omgevlieg het, swaai die kerk se deure oop en word dit tyd vir die Koekedore om hul plekke voor die kansel in te neem. Maar eers is daar ’n verrassing: Corli en Wessels se naastes is in die stoor om die pad kansel toe saam met hulle te loop.

Die beoordelaars is dit eens dat die skoonheid in Corli se koek aan die buitekant lê, en by Wessels aan die binnekant.

Dan breek die oomblik van waarheid aan. Dit was ’n fees gewees om te kyk hoe dié twee Koekedore bak, meen Tiaan.

Mari-Louis sê: “Corli, jy gee nooit op nie en ’n mens kan dit sien in jou gebak – dis pragtig.

“Wessels, jy is die oorspronklikste mens wat ek ken!”

Die wenner gaan huis toe met R200 000 kontant, ’n nuwe Suzuki Ciaz-sedanmotor en ’n begeerlike kookboekkontrak met Human & Rousseau. Rolkem Akademie en Capsicum Culinary Studio borg ook ’n suikerkuns-kursus van R50 000 vir die wenner.

Die naaswenner kry R50 000 kontant van Safari Dried Fruit, en Kenwood-toerusting ter waarde van R20 000, asook ’n suikerkursus ter waarde van R35 000.

Daar kan net een wenner wees, en ná 35 uitdagings kondig Tannie Elizabeth die nuwe Koekedoor-kampioen aan: Corli!

LEES: Koekedoor kry nuwe bakliefling

EKSKLUSIEF: Ons gesels met Corli

EKSKLUSIEF: Ons gesels met Wessels

EKSKLUSIEF: Ons gesels met die beoordelaars