Logo

Koekedoor 2-bakboek tref die rakke in Julie!

Nuus
10 Junie 2016
Die Koekedoor 2-bakboek is vanaf 20 Julie in boekwinkels beskikbaar. Ons vertel julle meer.
Koekedoor 2-bakboek

Met Koekedoor 2 se nuwe resepteboek, wat vanaf 20 Julie 2016 op die rakke gaan wees, is die pronkerigste gebak van die jaar binne die bereik van jou mengbak. Dié bakboek is geskryf deur Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos vir Koekedoor, en word uitgegee deur Human & Rousseau.

Net soos die kykNET-werklikheidsreeks vier die boek ons land se bakkultuur en bring die beste resepte uit die bakkompetisie bymekaar. Dis ’n unieke versameling van gebak met ’n familiegeskiedenis of sprankelnuut-skeppings. Inspirasie is gevind in Ouma se spens, Ma se koekblik en moderne plaasmarkies.

Die tuisgebak-trommel loop oor van broodpoedings, bierbroodjies, ongebakte koekies, vakansiekoekies en die geurigste vleispasteitjies. Bemeester manjifieke skeppings, funfettikoeke met verskuilde geheime, perskes- en-room-tiramisu, gourmet-oliebolle, sitrusterte en die asemrowende Brooklyn Blackout-sjokoladekoek.



Daar’s manne-gebak so reg in beoordelaar Tiaan Langenegger se kraal, ballerina-fyn pavlovas, wat Mari-Louis Guy laat pirouette, en kombuisteetreffers wat Tannie Elizabeth Cloete beïndruk.

Volgens Du Toit het die beoordelaars se mening swaar geweeg, “want hulle het elke liewe gereg geproe.”

Die uitblinker-resepte is dus almal daar. Sy het egter soms resepte wat dalk nie so goed uitgevoer is nie ’n tweede kans gegee. “Ek het gekyk na ’n balans tussen tradisionele gebak en verbeeldingryke, trendy gebak,” sê sy.

“Die Koekedore het die kans om nuut en buite die boks (oftewel die koekpan) te dink behoorlik omhels deur vanjaar selfs groter, hoër, mooier, oorspronkliker, meer gewaagd en uit hul gemaksone te bak as die vorige deelnemers – met uitstekende resultate (die rampspoediges het natuurlik nie die boek gehaal nie!).

“Die bakboek reflekteer enersyds die verbeeldingrykheid van die bakkers, maar ook – en vir ons deurslaggewend – ’n liefde vir ons gebakskatte uit die verlede en groot harte om hul bakgeheime te deel met ander.”

Human & Rousseau se Daleen van der Merwe, opdraggewende uitgewer, sê die bakboek is propvol nuwe en oorspronklike resepte. “Wat wonderlik van ’n kompetisie is, is dat deelnemers altyd poog om te wen en dus lewer almal net hulle beste. Dus die boek is propvol bestes!” sê sy. “Daar is te veel hoogtepunte om te noem, maar as ek moet dan is die ongelooflike pavlova-skeppings van die deelnemers en Mari-Louis se Operakoek sekerlik uitsonderlik.

“Die tweede boek het heeltemal ander resepte. Ook het ons meer foto’s van die deelnemers self ook in die boek geplaas. En die ontwerp is ook pragtig en elke hoofstuk is spesiaal aangepas by die program.”

Du Toit sê: “Die fotograaf Myburgh du Plessis, wat ook al die vorige Kokkedoor- en Koekedoor-boeke se ateljee-foto’s hanteer het, was weer ons keuse. Hy het ook die mooi publisiteitsfoto’s van die deelnemers geneem, asook die gesellige voorbladfoto waar die drie beoordelaars op ’n sitkamerbank regsit vir koek en tee.”



Sy vertel verder: “Ons het met Koekedoor 1 feitlik al die gebak se foto’s laat oorneem in ’n ateljee-opset. Met die skiet van Koekedoor 2 op Tulbagh kon ons, waar die logistiek en tydskedules dit toegelaat het, foto’s geneem het met die boek ingedagte. So is al Mari-Louis se fyngebak-uitdagings in die Koekedoor-stoor afgeneem.

“Die resepte vir die fyngebak-uitdagings is seker van die mees vooraf-getoetste resepte vir vernuwende gebak in die hele land. Eers is dit tydens die ontwikkeling van die resepte getoets deur Mari-Louis en haar broer, Callie Maritz. Daarna het die fynbakker op die stel – die bakboekskrywer Christine Capendale – dit hertoets in die Koekedoor-stoor met die toerusting en bestanddele presies waarmee die deelnemers sou bak.”

Du Toit en Van der Merwe is dit eens dat dié boek iets vir almal bied. “As jy reeds Koekedoor 1 se resepteboek het, is hierdie ’n wonderlike aanvulling, sonder dat daar duplisering is,” sê Du Toit.

Koekedoor het ’n fenominale invloed op die baklandskap op soveel terreine. Die vraag na bakprodukte het gestyg. Selfs bakwinkels en ander spesialis-plekke vertel hoe mense ingestroom het om ’n koekpan of ’n spesiale bestanddeel in die hande te kry na ’n uitsending.

“Mense wat ophou bak het, het weer begin bak omdat dit lekker is. Ons kry daagliks terugvoering van mense wie se lewens verryk is deur die program: ouma’s wat saam met hul kleinkinders bak; ma’s wat hul seuns leer bak; seuns wat hul pa’s aansteek om te bak; gesinne wat saambak. Selfs Riaan Cruywagen het vir ons geskryf om te vertel dat hy in die eerste keer in sy lewe begin bak het, na sy Koekedoor-ervaring. Nou bak hy verwoed worsrolletjies.

“Ek wens eintlik ons kon die klankbaan en musiek ook in die boek vasvang, want kykers was mal daaroor.”



Van der Merwe sê: “Daar is resepte vir onervare en ervare bakkers. Maklike en kort resepte en langer resepte, wat eerder meer tyd neem as wat dit regtig moeilik is.

“Bak is die nuwe mode – waar sjefs eers koning gekraai het is dit nou die bakkers en patisseri-sjefs. Televisieprogramme oor bak het natuurlik ’n groot rol gespeel. Spesilateitsbrood is oral beskikbaar en elke stad en dorp het deesdae ’n mark wat die heerlikste gebak verkoop.  Mense raak uitgekuier aan winkel-gebak en brood.”

Dis die beste geskenk vir iemand wat jy weet lief is vir bak, meen Du Toit. “As jy bly voel, gebruik die boek om bak. As jy lui voel, laat die boek jou aanspoor om te bak. As jy verlang, bak een van die goue-gunstelinge. As jy jou sente tel of ’n mylpaal vier, bak uit die boek uit.”

Vir al die Koekedoor-nuus, klik hier.