Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Koebaai Carmen, of is dit? – Suidooster

Nuus
27 April 2021
Desiré Gardner was die afgelope ses jaar te sien as Carmen in Suidooster, maar het besluit om dié rol vaarwel te roep.
1

Wat het jou laat besluit om Carmen te groet?
Dit kom nou al geruime tyd dat ek besef het ek moet wegbeweeg van ‘n permanente werk bloot omdat ek meer tyd met my kinders wil hê. Of kom ek stel dit so: Ek wil nog steeds agt tot twaalf ure werk, maar dit op my eie tyd doen, by die huis agter my rekenaar. Wanneer een van my kinders laat weet hulle het hulle skoene vergeet, kan ek vinnig in die kar klim en dit vir hulle vat. Dit is egter deel van ons industrie dat the show must go on. Wanneer jy voor die kameras is, kan jy nie in die middel van ‘n toneel sê jy moet gaan want jou kind is siek nie.

Ek het so ses jaar gelede begin leer van onderskrifte en vertaling op TV-programme en as iemand my toe sou sê dat ek eendag die sepie-wêreld gaan verlaat om net dit te doen, sou ek hulle nie geglo het nie. Maar stelselmatig het ek lief geraak daarvoor om te vertaal en onderskrifte te doen en te skryf en stories te vertel. Dit het begin groei en die liefde en die kennis het bymekaar gekom en die besluit makliker gemaak om die skuif te maak.

Ek sou Carmen vir die res van my lewe kon speel, maar die lewe maak draaie en niks is permanent nie. Ek is daar weg met ‘n seer hart. Ek is baie lief vir die rol, die storielyne en die span, maar ek weet dit is nou my tyd om weg te stap. En soos my ma vir my gesê het: Met my wat wegstap, maak ek vir iemand anders ‘n deur oop. Moenie fokus op die verloor nie, fokus op die feit dat iemand anders – ek ook – iets wen.

Is die groet finaal?
Never say never. Ek sal nooit sê dis finaal nie. Toe ek weg is, het ons al klaar gespot oor hoe Carmen kan terugkeer. Ek is te lief vir haar en ek dink sy het nog soveel stories wat moet uitkom. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar in my kop is die groet nie finaal nie. Ons sal moet sien hoe, wat en waar, maar ek kan haar nog nie laat gaan nie. Sy was die “normaal” wat ek soms in my lewe nodig gehad het. Ook die ondersteuningsnetwerk wat ek van die span by Suidooster gekry het. Met hulle het dit gevoel ek kan dinge deurmaak wat ek nie gedink het ek sou kon nie. My tyd daar was baie spesiaal.

Jy is ook bekend vir jou rol as Daleen in Binnelanders. Wat was jou sepie-hoogtepunte oor die jare?
Die storielyne wat ek kon vertolk. Ek was gelukkig om in al twee rolle – dalk bietjie meer met Carmen – komedie én drama te doen. Elke storielyn wat uitdagend was, het my toegelaat om as aktrise te leer. Die hoogtepunt was natuurlik dat ek by beide vriende vir ‘n leeftyd gemaak het. Like minded lekker mense met wie jy ‘n pad kan stap. En ek praat nou van cast én crew. Dit klink soos ‘n cliché, maar hierdie mense raak soos jou familie. Soos met families, kom jy nie altyd oor die weg nie, maar jy sal ‘n bullet vir hulle vat!

Jou laaste episode as Carmen is op 27 April uitgesaai. Waarmee het jy jouself intussen besig gehou en wat is jou planne vir die res van die jaar?
My eenvroustuk, Magda Louw, wat ek as 16-jarige vir ‘n kunswedstryd geskryf het en daarna deur die jare by ‘n fees en ‘n vroueoggend hier en daar opgevoer het, het ‘n Storiefilm vir kykNET geword. Ek is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid. Dit is vir my een van die spesiaalste karakters juis omdat ek haar so al lank speel. Ons moes dit vir die film anders aangepak het omdat die karakter 65 jaar oud is.  Ons moes baie met grimering doen om dit geloofwaardig te maak. Dis ‘n slice of life – tong in die kies en knop in die keel. Dit kyk na liefde en oud word en al daardie dinge. Ek hoop mense gaan dit geniet. Intussen is daar klein rolletjies so hier en daar, maar grotendeels my vertaal- en onderskrifte-werk asook aanlyn-dramaklasse wat ek gee. En natuurlik my kinders wat my besig hou.

Wat was die grootste uitdaging om ‘n ma te speel wat haar kind verloor het?
Om dit so eg as moontlik weer te gee, veral vir mense wat al deur so ‘n ervaring is. Dit is so seer en rou. Jy kan dit nie afmaak as net nog ‘n storielyn nie. Jy moet jou alles gee en daardie emosies ervaar. Feel and reveal soos hulle sê.

Ek ken nie die verlies van ‘n kind nie, maar ek ken verlies. Verlies is iets wat almal verstaan en as jy na daardie plek kan gaan, gaan jy dit weerspieël vir daardie karakter en wat hulle deurgaan.

Carmen is geskryf deur haar fases van rou. Selfs teen die einde waar sy haar man los, is dit een van haar fases. Wie sy is, was nog altyd iemand wat weggehardloop het. Ek, as Desiré, stem nie met haar saam dat sy haar man, wat nog altyd so goed vir haar was, los nie, maar ek verstaan dit omdat dit Carmen is. Om weg te hardloop, is haar auto pilot.

Wat is die belangrikste ding wat jy geleer het in jou tyd op Binnelanders en Suidooster?
Dit is OK om ‘n onderteuningsnetwerk nodig te hê en dis OK om vir hulp te vra. Ek het baie gegroei. Jy moet sterk wees en tye wanneer jy dink jy gaan uitmekaar val, jouself optel. Ek het met die pandemie geleer dat die doel van storievertel is dat mense hulle eie normaal wil hê; hulle wil steeds elke aand hulle storie kyk. Die wêreld het uitmekaar geval, maar wanneer jy voor die TV sit, is jou oomblik van ontvlugtig daar. Al jou karakters is daar en hulle lewe gaan normaal aan. So beslis om stories te vertel en vir mense te sê alles sal OK wees.

Jy skryf ook. Wat is die een projek wat jy graag sal wil aanpak?
Ek is baie gelukkig dat ek deel van baie projekte kon wees. Behalwe Magda Louw wat ‘n fliek geword het, het ek help skryf aan Lui maar op, Belinda. Dit sal vir my lekker wees om ‘n draaiboek vir ‘n speelfilm te skryf. Om op ‘n sepie of drama as skrywer te werk ook. Om die waarheid te sê sal ek vir die verhoog ook wil skryf. Ek is in die honeymoon-fase van my skrywersloopbaan so enige geleentheid is ‘n blessing. Dus enige ding as ek moet eerlik wees. Ek is mal daaroor.

Watter rol sal jy graag eendag wil speel?
Iets donker. Die naaste wat ek daaraan gekom het, was Adele in Wolwedans in die skemer. Ook iemand wat dalk op werklike gebeure gegrond is. Dit sal ‘n lekker uitdaging wees.

Onthou om weeksaande in te skakel vir Suidooster en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk #Suidooster te gebruik.