Logo

Knapsekêrels: Rachel se hartseer

Nuus
23 Januarie 2018
Rachel deel haar seer met Skalkie, en Zimmerman is op sy hoede.
Knapse Rachel se Seer

Rachel maak oop teenoor Skalkie. FOTO: Uit hierdie week se episode

’n Jakkalsdraf (foxtrot) eindig vandeesweek sleg vir Rachel en Cassandra wanneer hul sjampanje deur ‘jakkalse’ (’n groepie ryk middeljarige mans en vroue) gedokter word en die twee dansers verkrag word.
 
Lees meer oor die vorige episode hier.

Skalkie is vies wanneer Rachel nie huis toe kom nie, en konfronteer haar die volgende oggend: “Waar de hel neuk jy rond? Ma het nie ’n oog toegemaak nie!”

Rachel se reaksie is verdedigend en sy is huilerig. Later maak sy oop teenoor Skalkie, en Skalkie wil name hê. “Wat gaan jy maak?” vra Rachel.

Skalkie sê: “Hulle gaan dit nie weer doen nie, dis al wat jy hoef te weet.”

Kyk die video hier:

In die Zimmerman-huis kan Hans nie slaap nie en ontbied Chilly vir ’n vergadering in sy studeerkamer. “Jy slaap en die wolwe is voor ons deur, jawohl, die Filistyne is op ons, Chilly,” sê Zimmerman. “Hulle dink ons is maklik, swak.”

Chilly ken Zimmerman al goed en sukkel nie té lank om kop of stert daarvan uit te maak nie. “Davids is ’n skelm,” sê hy.

Spyker op die kop geslaan: “Jy verstaan besigheid,” sê Zimmerman. “Besigheid werk nie as mense dink jy’s sag en maklik nie.”

Intussen sien ons Addie dramaties voordra op ’n teaterverhoog, sonder dat haar pa óf Skalkie van haar doen en late bewus is. Zimmerman wil hê sy dogter moet Zimmermans oorneem en moet daarom alles van besigheid weet, maar wil sy in die geheim eintlik ’n aktrise word soos haar ma?

Weer in Zimmerman se kantoor vertel Chilly en Skalkie vir Zimmerman van Davids se nuwe lyfwag – so groot soos King Kong.

Zimmerman sê: “As hy een massiewe bodyguard in sy kar kan sit, kan hy tien om sy huis sit.”

Hy stuur sy lyfwagte om te gaan uitvind “presies hoe groot die probleem is”.

In die Bekker-huis klop Dirk dringend aan ’n deur. Joey het haarself en ’n boks wyn in Karel se kamer toegesluit en is besig om sy storieboeke een vir een tot niet te maak. Karlien bel vir Mynie: “Sy wil net met jou praat, dis weer een van daai,” sê sy.

Wanneer die vullisblik vol boekblaaie is, steek sy dit aan die brand, en Mynie skop die deur af. “Ma gaan die plek afbrand!”

Joey skree: “Los my, moordenaar!”

Mynie is keelvol: “Hy’t homself vermoor! Hy was bang! Doodbang!

“Ma’t hom bederf! Hy’t altyd sy sin gekry! Ma se blerrie baby!

Kyk die volledige toneel hier:

Samuel kry uiteindelik sy sin wanneer Naomi ná ’n uitval met Brenda besluit om te bedank. Hy het vroegoggend Brenda se peperduur horlosie in Naomi se handsak geglip, en Naomi en Brenda kom later saam op sy handewerk af. Dis vir Brenda ’n bitter pil om te sluk.

Naomi sê: “Hy’s hier vir die geld! Jy gee hom ’n lêplek, die ding werk net soos hy wil.

“Ek gee notice.”

Skakel in vir ’n nuwe episode van Knapsekêrels, Dinsdag om 20:00. Gesels saam op Facebook en Twitter by #Knapsekêrels!