Logo

Knapsekêrels bly tot einde klou

Nuus
03 April 2018
’n Oor-en-weer-skietery bars los in die Zimmerman-huis, en Bekker & Fortuin Security word gebore.
Knapsekerels-Ep13

Skalkie werk met ’n plan. FOTO: Uit vandeesweek se episode

In die finale episode van dié aksiebelaaide reeks doen die knapsekêrels hul naam gestand: Mynie en Skalkie klou aan hul missie soos mis aan ’n wolkombers. Dáárvan kan iemand soos Baby Tjoklits getuig.

In die Zimmerman-huis het Baby een ding op die brein, en dit is die Duitse sakeman se geld. Zimmerman stem in om Baby te betaal om vir ewig uit hul lewens te verdwyn, maar in eg Knapsekêrels-styl loop selfs die eenvoudigste transaksie skeef.

Die temperatuur in die Zimmerman-huis kom naby kookpunt, en ’n skietgeveg eindig noodlottig. Kyk die video:

Chilly is dood, Chantel is ernstig gewond en Baby is weg. ’n Emosionele Skalkie sit Baby agterna, maar dié jaag weg met Mynie se sportmotor.

’n Man in ’n donker Mercedes daag by die Zimmerman-huis op asof hy daarheen gestuur is, en Skalkie spring in en dwing die man om die rooi motor te agtervolg. Dis eers later wat Skalkie besef sy drywer is eintlik sy pa, en Skalk Fortuin vertel hom dat hy Rachel gehelp het om haar probleem op te los: Die vrou het haar man en sy boeties opgegee, en Rachel gaan skadevergoeding en onderhoud vir haar baba eis.

Ses weke later gaan Zimmerman en Karlien na die teater om Addie in die ‘Dragon’ se Shakespeare-toneelstuk te sien. Dit gaan goed met die Bekkers, Koos en Domkrag is terug in die tronk en Chantel sterk goed by die huis aan.

Zimmerman se prokureurs sorteer glo nog dinge uit, maar Mynie en Skalkie het planne van hul eie. Hulle hoor Baby is nooit landuit nie, maar werk in ’n sjebeen in Johannesburg. Die kêrels ry soontoe met een plan: Kry Baby om te erken hy het Chilly doodgeskiet, en gaan dan polisie toe.

Ons groet die knapsekêrels waar hulle buite die sjebeen sit met ’n opnametoestel, en saam planne maak vir die toekoms.

Mynie en Skalkie kry wat hulle by Baby wou hê, en gesels besigheid. Kyk die video:

Gesels saam op Facebook en Twitter by #knapsekêrels!