Logo
KN Pandemie
web uni tv guide

KN Pandemie

144NuusprogramPG13

KN Pandemie: nuwe program wat die pad vorentoe ondersoek

Nuus
06 April 2020
COVID-19 is deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie tot ‘n pandemie verklaar. Vir die volgende 13 weke, vanaf Dinsdag 7 April om 21:00, bring KN Pandemie akkurate nuus en feite oor die virus op kykNET DStv-kanaal 144.
KN Pandemie Presser

In KN Pandemie sal die aanbieder, Suzaan Steyn, met kenners op verskeie gebiede regstreeks via Skype gesels. Viroloeë en dokters sal mediese aspekte van COVID-19 bespreek en praktiese wenke gee oor hoe om veilig en gesond te bly. En sielkundiges sal oor die sielkundige impak van die virus gesels, met praktiese wenke oor hoe om na jou geestesgesondheid in hierdie uitdagende tyd om te sien.

Kykers sal ook die geleentheid gegun word om hul vrae rondom COVID-19 via kykNET se sosiale media te rig. Dié vrae sal deur kenners regstreeks op die program beantwoord word.

KN Pandemie sal ook weekliks via Skype inloer by verskeie professionele mense – dokters, verpleegsters en ander mense wat direk in kontak met COVID-19 is, sowel as mense wat plaaslik of internasionaal in inperking is, om meer oor hul ervaring te praat. Daar is ook talle organisasies wat hard werk om ander te help om die uitdagings wat COVID-19 bring te oorkom – in KN Pandemie sal daar weekliks op só ‘n organisasie gefokus word.

Kykers kan ook uitsien na praktiese wenke om hul lewens in hierdie tyd te vergemaklik en te verryk– van maklike geregte om voor te berei en aktiwiteite om die kinders (en volwassenes) mee besig te hou, tot fisiese oefeninge, oefeninge om jou brein uit te daag en maniere om jou gemoed kalm te hou.

Vermaak sorg vir afleiding in dié uitdagende tyd – KN Pandemie sal jou op hoogte hou van goeie flieks en reekse om te kyk, sowel as boeke aanbeveel om te lees. Daar sal ook gekyk word na tegnologie wat mense kan gebruik om steeds met mekaar te kan kommunikeer en interessante goed wys wat mense saam kan doen, al is hulle nie fisies bymekaar nie.

Skakel Dinsdae om 21:00 vanaf 7 April op kykNET DStv-kanaal 144 in vir die regstreekse uitsending van KN Pandemie.