Logo
OSSS
web uni tv guide

Op Seer Se Spoor

145Dokumentêr13 V

Klaskamer 10: Wiskunde en wetenskap in jou huis

Nuus
24 Maart 2020
Ouers wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, het amper oornag onderwysers geword met skole wat gesluit is. Veral ouers van hoërskoolleerlinge wat uitdagende vakke soos wiskunde en fisiese wetenskappe neem, sit moontlik hande in die hare. Hoe help jy jou kind?
Klaskamer10 presser

Klaskamer10 op kykNET&Kie, kanaal 145 op DStv, is jou antwoord! Dié program fokus juis op wiskunde en fisiese wetenskappe vir leerders van graad 8 tot graad 12. Martin du Plessis en Werner Cronjé, die breinkrag agter Klaskamer10, vertel meer.

Wat presies is Klaskamer10? 

Klaskamer10 is kykNET se opvoedkundige wiskunde- en fisiese wetenskappe- program wat leerders in Graad 8 tot Graad 12 ondersteun met die belangrikste konsepte in die sillabusse. Saam met elke episode kan jy jou gratis werkstuk op ons webblad gaan aflaai. Klaskamer10 saai elke weeksdag om 15:00 op kykNET en Kie, kanaal 145 op DStv uit met ‘n weeklikse omnibus op Saterdae.

Hoe kan ouers die program en webblad gebruik in hierdie tyd? 

Klaskamer10 bied aan ouers die geleentheid om die konsepte saam met die leerders deur te werk. Ouers kan die werkstukke gratis aflaai en die program ook volg om hulself voor te berei om leerders by te staan in die selfstudie-proses. Klaskamer10 is ook op CatchUp beskikbaar sodat leerders herhaaldelik daarna in hul eie tyd kan kyk.

Wat is julle raad vir ouers wat skielik ook onderwysers moet wees? 

Dit is baie belangrik vir ouers om seker te maak dat die hulpbronne wat hulle vir hulle kinders aanskaf van ‘n hoëstaande gehalte is. Daar is ‘n magdom hulpbronne beskikbaar, maar daar is min hulpbronne wat saamgestel is deur kenners op die vakgebied – spesifiek met die oog op wat in die sillabus behandel word, asook wat in die eksamenvraestelle gevra word. In hierdie tyd is dit belangrik om te fokus op eksamenvoorbereiding. Die Klaskamer10-tutors is onnies met jare se ondervinding. Ons (Martin en Werner) is aktief betrokke by ‘n verskeidenheid skole en werk ook baie nou saam met onderskeie departementshoofde asook wiskunde- en fisiese wetenskappe-onderwysers om seker te maak inhoud is tersaaklik en relevant. Samewerking met verskeie onderwysdepartemente fasiliteer ook die verskaffing van akkurate, betroubare hulpmiddels. 

Is daar ander webblaaie wat julle kan aanbeveel? 

Die beste is om seker te maak dat die webblad wat jy gebruik van ‘n betroubare bron is, saamgestel deur persone met ondervinding in die veld het. Kyk ook na die Department van Onderwys se webblad vir baie vorige eksamenvraestelle wat leerders kan doen en op oefen.

eClass Room is ook ‘n uitstekende bron vir leerders.

Wat moet matrieks doen om voor te berei vir die eksamen? 

Matrikulante moet sorg dat hul op hoogte van die inhoud bly. Daar is ‘n groot hoeveelheid werk wat in ‘n kort tyd behandel moet word. Dit is alreeds moeilik om al die inhoud onder normale omstandighede te behandel. Op die oomblik, met die sluit van die skole en die onsekerheid oor wat gaan gebeur, is dit meer belangrik as ooit vir matrikulante om deurgaans op hoogte te bly en self deur die sillabus te begin werk. Hierdie tydperk moet NIE gesien word as vakansie NIE, maar eerder as selfstudie tyd by die huis. Daarom is top-gehalte leermateriaal onsettend belangrik. Dit is ook belangrik om te fokus op die graad 11-inhoud, aangesien hierdie konsepte ook gedurende die Junie-eksamen geassesseer sal word.

Klaskamer10 stel ook saam met die gratis werkstukke ‘n volledige BLIKslim-reeks beskikbaar. Hierdie pakkette sluit in-diepte videolesse, werksboeke, vraestelle, breinkaarte en ander hulpmiddels in – perfek vir tuisonderrig. Sien gerus die klaskamer10 webblad onder die BLIKslim-skakel. Maak seker om jou pakket so gou as moontlik te bestel, sodat leerders onmiddellik daaraan kan begin werk. 

Hoeveel ure per dag moet ’n kind aan skoolwerk spandeer?

Gedurende hierdie tyd moet leerders min of meer dieselfde hoeveelheid tyd aan skoolwerk spandeer as wat hul sou doen indien daar normale skool was. Vyf tot ses ure daagliks vir al die vakke is ‘n goeie maatstaf. 

Watter aktiwiteite beveel julle aan vir ontspanning? 

Aangesien mense nie regtig uit hul huis mag gaan nie, sal dit ‘n goeie idee wees om ‘n bietjie oefeninge te doen vir ontspanning. Dit sal ook goed wees vir ouers om aktiwiteite soos om ‘n boek te lees, ‘n interessante dokumentêr te kyk of om iets kunstig aan te pak, aan te moedig.

Wat is die belangrikste ding wat ouers in hierdie tyd moet onthou? 

Probeer om leerder se daaglikse patrone dieselfde te hou. Leerders moet steeds ‘n sin van verantwoordelikheid handhaaf in hierdie tyd. Omdat skole gesluit is vir ‘n langer tydperk, beteken nie dis nou langer vakansie nie. Indien leerders voortgaan om ‘n roetine te hou en steeds skoolwerk te doen (selfs vanaf die huis) en solank vooruit begin werk, sal dit nie so groot aanpassing wees indien skole weer ‘n aanvang neem nie. Dit is nou baie belangrik dat leerders verantwoordelikheid neem vir hul eie akademiese prestasies – niemand kan blameer word vir die huidige situasie nie – alle leerders moet nou, meer as ooit van te vore gebruik maak van uitstekende material om hulself voor te berei.

Wat kan kykers van die programme in die volgende paar weke verwag? 

Klaskamer10 sal in die komende weke voortgaan met die sillabus soos voorgestel deur die Department van Onderwys en sal daarna ook ‘n reeks episodes hê waartydens eksamenhersiening gedoen sal word; volledig met ‘n eksamenhersieningsboekie wat leerders van die webblad kan gaan aflaai.

Skakel weeksdae om 15:00 op kykNET&kie DStv-kanaal 145 in vir Klaskamer 10 en besoek die webwerf vir addisonele hulpbronne.