Logo

Klaskamer 10: Moeilik, maklik gemaak!

Nuus
19 Januarie 2017
Die nuwe onderrigprogram Klaskamer 10 wil veral vir hoërskoolleerders help om hul punte in wiskunde en fisiese wetenskap te verbeter.
Klaskamer 10 Logo

Die nuwe onderrigprogram Klaskamer 10 wil veral vir hoërskoolleerders help om hul punte in wiskunde en fisiese wetenskap te verbeter.

Dié program word vanaf Maandag 6 Februarie 2017 op DStv-kanaal 144 en 146 uitgesaai:

kykNET


Maandae tot Donderdae tussen 17:00 en 17:15 en Vrydae tussen 16:30 en 16:45.

kykNET NOU!


Maandae tot Donderdae tussen 15:25 en 15:40, Vrydae tussen 14:25 en 14:40, met ’n omnibus van 09:00 tot 10:15 op Saterdae.

Meer oor Klaskamer 10


Wiskunde en wetenskap is oral om ons – en dít is wat ons vir leerders wil wys. Ons wil die wêreld van wetenskap en wiskunde op só ’n wyse na leerders bring dat hulle daarmee kan identifiseer. Om hiermee te help is ons twee aanbieders jonk, entoesiasties en in voeling met vandag se modes en tendense.

Werkstukke


Leerders kan elke dag ’n werkstuk op Klaskamer 10 se webblad gaan aflaai.

Meer oor die aanbieders


Martin du Plessis


34 klaskamer 10 martin


Martin (31) woon in Pretoria. Hy het matriek met 17 vakke en 14 onderskeidings voltooi en het BSc (Aktuariële Wetenskappe – Wiskundige Statistiek) aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Hy het daarna vir twee jaar vir die lugdiens Emirates in Dubai gaan werk. Terug in Suid-Afrika (2009) het hy en Werner Cronjé die maatskappy Ducron Opleiding begin, wat aanvullende klasse in wiskunde en fisiese wetenskap aan leerders bied. Martin staan aan hoof van die wiskunde-departement en het 10 jaar se ondervinding om wiskunde spesifiek aan graad 11- en 12-leerders te verduidelik.

Martin het ’n nagraadse sertifikaat in Wiskundige Onderwys sowel as ’n honneursgraad in Wiskundige Onderwys aan Unisa verwerf. Hy is tans besig met sy meestersgraad, en is ’n lid van Mensa.

Werner Cronjé


34 klaskamer 10 werner


Wener (31) woon in Pretoria. Hy het in 2004 sy studies aan die Universiteit van Pretoria (BSc Aktuariële Wetenskappe – Wiskundige Statistiek) begin, waartydens hy ook as tutor in wiskunde en fisiese wetenskap vir hoërskoolleerders gewerk het.

Hy het na sy studies werkservaring opgedoen by Absa Konsultante en Aktuarisse, sowel as die Emirates-lugdiens in Dubai.

In 2009 het hy saam met Martin du Plessis die maatskappy Ducron Opleiding begin, wat aanvullende klasse in wiskunde en fisiese wetenskap aan leerders bied. In die 10 jaar wat Martin die vak aanbied, het hy duisende leerders gehelp om punte so hoog as 99% in die matriekeksamen te behaal. Hy is ook ’n lid van Mensa.

Gaan na www.klaskamer10.co.za vir meer inligting.