Logo

Karen Zoid: Op die oomblik – Deel 1

Nuus
18 Augustus 2017
Op 20 Augustus word Karen Zoid se visuele album, Op die Oomblik – deel 1, op kykNET uitgesaai.
Karen Zoid

Foto vanuit ’n kykNET-voorskou

Dit is ses jaar vandat Karen Zoid laas ’n Afrikaanse solo-album uitgereik het. Sedertdien het sy met haar TV-program, Republiek van Zoid Afrika, vier albums vrygestel en 27 keer nommer een behaal op iTunes.

Zoid se nuwe album, Op die oomblik, is die eerste deel van drie verskillende hoofstukke in haar nuwe liedjieboek.

Haar rock-energie en delikate lirieke raak al vir jare aan gehore se harte! Sy en haar band, Schalk van der Merwe, Henry Steel en Tim Rankin, speel al sewe jaar saam. In 2016 het hulle saam met Kyle Petersen op klavier begin werk en Kyle het ook saam geskryf aan die liedjie Vir Jou, die eerste enkelsnit van die nuwe album wat op Vrydag, 4 Augustus, op iTunes uitgereik is.

KYK: Karen Zoid – 'Vir Jou'

Zoid sê die volgende oor dié enkelsnit: “Ware liefde is iets wat eers werklik waardeer kan word deur iemand wat al ’n paar myle gedoen het op hierdie besoedelde albastertjie. Die teenwoordigheid van liefde is vir my die werklike bewys dat ons nie alleen is in die heelal nie.”

Al is die musiekbedryf tans in ’n sogenaamde “enkelsnit era”, is die maak van ’n album nog steeds vir Zoid meer vervullend. Sy sê: “Ek wil graag deel voel van die huidige era, eerder as om te veg, óf maak asof dit nie so is nie. Gewoonlik skryf ek twintig of dertig [liedjies] en dan kies ek die ‘beste’ 12 om ’n album op te maak.

“Met hierdie liedjies het ek besluit om die eerste paar songs wat ek skryf net te voltooi en dadelik op te neem. Ek wil die oomblik vasvang, al weet ek dis onmoontlik. Ek is besig om te probeer.

“Ek wil dit beskryf en verken en ten volle ervaar. Dis ook nie net ons musiekwêreld wat in ’n ‘enkelsnit era’ is nie – die hele wêreld is eintlik ook. Iemand sê iets in Amerika, en dit affekteer die hele Midde-Ooste. Oombliklik.”

KYK: Karen Zoid – 'Dames en Here'

Op die Oomblik – deel een is ’n musikale kortfilm deur Zoid. Musiekvideo’s, wat elkeen ’n spesifieke storie vertel, word gebind met vertellings deur Karen (gedigte, stories, aanhalings van dinge wat nou relevant is ‘op die oomblik').

Op 20 Augustus word dié visuele album op kykNET NOU! uitgesaai. Skakel in om 20:00!

Zoid maak op 24 Augustus weer geskiedenis deurdat sy die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar gaan wees wat ’n visuele album op iTunes gaan uitreik. Internasionale kunstenaars wat al soortgelyke visuele albums uitgereik het sluit in Beyonce, Drake en Brad Paisley

KYK: Karen Zoid – 'Vonkelvrou'

Kyk die musiekvideo vir die liedjie 'Vir Jou' hier. 'Dames en Here' se musiekvideo is hier te sien, en 'Vonkelvrou is hier beskikbaar.

Bly op hoogte deur Karen Zoid op Twitter, Facebook en Instagram te volg.

Skakel in vir Op die Oomblik – deel 1, Sondag 20 Augustus om 20:00 op kykNET NOU!. Vir meer inligting, volg kykNET NOU! op Twitter en Instagram, sowel as Facebook. Hou ook kykNET NOU! se Twitter-, Instagram- en Facebook-blad dop vir meer inligting.