Logo

Karen Zoid onttroon Justin Bieber en Adele

Nuus
08 Januarie 2016
Snotkop en Karen Zoid se “Dis ’n Land” het gisteraand die nommereen-posisie op iTunes se Suid-Afrikaanse trefferlys behaal.
RZA Karen Zoid

Die derde seisoen van kykNET se gewilde geselsprogram Republiek van Zoid Afrika het op Donderdag 7 Januarie 2016 begin. Karen Zoid se gaste was die veteraanaktrise, Sandra Prinsloo, en die sanger, Francois Henning, oftewel Snotkop.

Soos in die vorige seisoene sluit Karen weer episodes met gewilde treffers af en in die eerste episode het sy en Snotkop “Dis ’n Land” gesing. Hierdie weergawe is onmiddellik ná die episode in Apple se Suid-Afrikaanse iTunes-winkel beskikbaar gestel.

“Dis ’n Land” was binne minute in die top-drie waar dit Adele se “Hello” se tweede posisie oorgeneem het. Kort daarna het dit Justin Bieber van die nommereen-posisie ontroon.

“Dis ’n Land” kan in die Suid-Afrikaanse iTunes-winkel vir R9,99 gekoop word.

Kyk hier na die opvoering:



In volgende week se episode (14 Januarie) gesels Karen met die komediant, Marion Holm, en haar gunsteling “broetjie” van die Onder Kaap. Republiek van Zoid Afrika word op Donderdae om 20:30 op kykNET uitgesaai.