Logo
RZA
web uni tv guide

Republiek Van Zoid Afrika

144Geselsprogram13 L

Karen Zoid binnekort terug op kykNET

Nuus
28 Februarie 2020
Suid-Afrikaners kan weer hul paspoorte afstof vir ’n onvergeetlike besoek aan die Die Republiek Van Zoid Afrika.
RZA Article Image

Die splinternuwe seisoen van kykNET se bekroonde geselsprogram met Karen Zoid as aanbieder begin op Donderdag 16 April.

In die nuwe reeks vergroot President Karen haar reeds indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes. Van die bekendes wat in Karen se Republiek aantree, sluit in Derek Watts, Denise Newman, AB de Villiers, Sandi Schultz, Max du Preez, Nico Panagio, Jeannie D, Stef Bos, Spoegwolf en Elandré Schwartz.

Republiek van Zoid Afrika is immers al ’n paar keer as Suid-Afrika se beste geselsprogram aangewys met talle SAFTA-toekennings en ander vererings op die reeks se kerfstok. Boonop het dit ook vyf musiek-albums en 67 treffer-liedjies agter die blad.

Karen vier ook vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf en ’n groot Arena-konsert word beplan vir Julie by die Sun Arena in Pretoria.  

Vir Karen bly dit ’n hoogtepunt om te kan kuier met fantastiese mense op haar geselsprogram.

“Daar is soveel nuwe wonderlike stories en wyshede. Dis ’n gebabbel, ’n gelag (en soms gehuil) van die eerste oomblik af,” sê sy. 

“Ek gaan in hierdie reeks weer saam met ’n paar legends sing, maar ek kry ook die kans om die nuwe talent in ons musieklandskap beter te leer ken.”

Boonop is dit vir Karen baie spesiaal dat die sesde seisoen van Republiek van Zoid Afrika saamval met die viering van haar twee dekades in die musiekbedryf.

“Te midde van ’n crazy wêreld daar buite, is dit goed vir grootmense om te kan gesels en saam te kyk na die lewe met ’n koppie tee, glasie wyn of whiskey in die hand. Ek dink dis eintlik broodnodig!”

Ouder gewoonte sal episodes afgesluit word met verwerkings van trefferliedjies en in Apple se iTunes-aanlynmusiekwinkel beskikbaar gestel word. Vorige seisoene se verwerkings het keer op keer iTunes se trefferlys gedomineer.

Republiek van Zoid Afrika word vanaf 16 April op Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.