Logo

Jukebox-skoletoer

Nuus
06 Januarie 2016
Dit is amper tyd vir die eerste Jukebox-skoletoer, wat van 20 Januarie tot 4 Februarie 2016 plaasvind.
Jukebox Skoletoer Datums

Dit is amper tyd vir die eerste Jukebox-skoletoer, wat van 20 Januarie tot 4 Februarie 2016 plaasvind.

Jukebox-aanbieder Pieter Koen en die kunstenaar Willem Botha gaan die land platry met 12 optredes en meer as 30 skole in slegs 12 dae besoek. Wees op die uitkyk vir dié dinamiese duo, wat oud en jonk van Virginia tot in Riversdal gaan vermaak.

Pieter Koen

Hy kuier elke Saterdag saam met jou op Jukebox en sommer party Woendae ook op Kwêla. ’n Uitmuntende TV-aanbieder is hy beslis, met ATKV- en Huisgenoot Tempo-toekennings op sy kerfstok vir sy aanbieding. Musiek is steeds Pieter se eerste liefde en hy toer die land plat met sy nuutste album, Wat Die Hart Van Vol Is. Die album wys ’n ouer en dieper Pieter Koen. “Man Van Staal”, die eerste enkelsnit, het trefferparades landswyd geklim en die nuutste enkelsnit, “So Hard Geval”, is steeds op verskeie trefferparades landswyd. Die album spog ook met ’n Huisgenoot Tempo- en SAMA-benoeming. Pieter is ook gewild as gasheer vir funksies en doen selfs stemwerk.

Willem Botha

Jy het hom in 2006 leer ken tydens die Afrikaanse Idols-reeks op kykNET, waar hy as naaswenner uit die stryd getree het. Sedertien het hy drie bekroonde albums en groot film-, teater- en TV-rolle agter sy naam gekry. Hy was ook die eerste Suid-Afrikaner wat aan die Eurovision Song Contest deelgeneem het – vir die span van Belarus, wat dit tot in die finaal gemaak het. Meer as 100 miljoen kykers het die kompetisie se finaal gekyk in meer as 44 lande. Hy het ook reeds optredes in onder meer België, Nederland, Luxemborg, Swede en Dubai op sy kerfstok. Hy is gek oor alle fasette van die vermaaklikheidsbedryf – sing, dans, toneelspeel, aanbieder wees en selfs agter die kamera. Liefling, Die Movie en later Pretville was sy silwerskerm-verskynings, terwyl hy in die teater te sien was in Deon Opperman se Tree Aan! en ook meer onlangs in Reik Na Die Sterre, waarin hy die hoofrol vertolk het. Hy het ook kom kuier op die kassie met Donkerland en is vanaf Januarie in Sterlopers op kykNET te sien. Hy beplan om in April 2016 ’n nuwe album uit te reik.

Toerprogram