Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Jou gunsteling Suidooster-sterre op die Suidoosterfeesverhoog

Nuus
21 April 2022
Kom kuier saam!
Suidooster

Die Suidoosterfees en Suidooster, kykNET se gewilde sepie, is soos familie. Nie net deel die fees en die TV-program ’n naam nie – die toppresteerders van die fees se ontwikkelingsprojekte maak gereeld ’n gasverskyning in die sepie. Suidooster-sterre tree ook dikwels op as beoordelaars van jong, opkomende talent wat aan feesprojekte deelneem.

In 2021, te midde van die Covid-19-pandemie, is die Suidoosterfees se inryteater by Atlantic Studios in Kaapstad, waar die sepie daagliks verfilm word, aangebied. Verlede jaar se inryteater het gesorg met ’n Suidooster-hoogtepunt toe die lang verwagte troue tussen die karakters Tyron en Lee-Ann op die feesverhoog gevier is. Wilmer Muller, die sepie se publisiteitsbestuurder, sê: “Die inryteater was vir ons ’n mylpaalgebeurtenis, aangesien ons ons kykers kon nooi om ons akteurs in persoon te ervaar, en terselfdertyd kon ons R50 000 vir die Rooikruis-kinderhospitaal insamel.”



Vanjaar maak die fees weer so. Jawaahier Petersen, Eden Classens, Irvine van der Merwe, Natasha van der Merwe, Marco Spaumer en Simone Biscombe is as hul sepie-karakters, Kaashifa, Justin, Nazeen, Susan, Tim en Bianca op 1 Mei om 14:00 in Kunstekaap op die feesverhoog met Suidooster Stormsterk. Feesgangers kan hulle dan verlustig in die die akteurs se pragtige sangstemme. Hulle word op die verhoog ondersteun deur The Stage Performing Arts Studio se talentvolle dansstudente met passies wat die produksie nog meer skouspelagtig gaan maak.

Volgens Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, is Stormsterk ’n sprekende voorbeeld van hoe kruisbestuiwing tussen teater en televisie tot unieke kombinasies kan lei. “Die vennootskap met Suidooster is vir ons van onskatbare waarde.”



Koeksusters op die Suidoosterfees se dramaprogram spog met drie Suidooster-sterre in die rolverdeling: Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch. Dié dramadie is geïnspireer deur die pandemie van geslagsgebaseerde geweld waaronder vroue in Suid-Afrika ly. Die akteurs vertolk die rolle van drie vroue van die Kaapse Vlakte – Betty, Brenda en Bieba. Betty moet haar eie ideale opsyskuif om haar gesin te versorg, Brenda sukkel om te aanvaar dat sy aantreklik is en loop deur onder verbale geweld, en Bieba se seun rand haar aan. Koeksusters se boodskap aan vroue in die land is ondubbelsinnig: Staan saam, al gebeur wat, sodat die skande van geweld waaraan ons moeders, susters en dogters onderworpe is, tot ’n einde kan kom.

Jill Levenberg, bekend as Mymoena in Suidooster, is ook te sien in Heloïne Armstrong se NATi Jong Sterre-produksie, Maanskyn en dorings. Hierdie poëtiese dansdrama, gebaseer op ware gebeure, weerspieël die stille stryd van ’n dogter wat gedwing word om die brokstukke van haar ma se hartseer op te tel. Dit wys die vele gesigte van skisofrenie en bipolariteit en hoe identiteit daardeur gevorm word. Maanskyn en dorings is ’n bittersoet verkenning van liefde en verlies, liries vertel in die Suid-Kaapse tongval van Afrikaans.



“Ons werk al ’n geruime tyd met Suidoosterfees saam,”sê Wilmer Muller, “om hulle te ondersteun in die belangrike taak wat die fees op sy skouers dra om die kunste in al sy vorme te bevorder en meer inklusief te maak.”

Die volledige Suidoosterfeesprogram is hier beskikbaar. Die fees volg ’n inentingsbeleid, soos neergelê deur die gesondheidsowerhede ingevolge Covid-19-pandemieveiligheidsregulasies. Feesgangers sal dus elektroniese of gedrukte inentingsertifikate moet kan vertoon om toegang te verkry, of bewys moet kan lewer van ’n negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie.

Die Suidoosterfees word ondersteun deur die department van sport, kuns en kultuur, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET.