Logo

Jonathan Rubain sing koortjies op kykNET NOU!

Nuus
22 Februarie 2020
Só het jy vir Jonathan Rubain nog nooit gesien nie!
1

Die bekende Gospel-musikant is te sien in kykNET NOU! se nuwe gospel musiek- en geselsprogram, Koortjies met Jonathan Rubain. Die reeks fokus op die rol van geloof, sang, spiritualiteit en sake wat kykers na aan die hart lê.

In elke episode kom kuier daar bekende gaste om saam te gesels oor ‘n spesifieke onderwerp. Gaste sluit in van bekendes, tot jou “plaaslike pastoor” en merkwaardige alledaagse mense wat ongelooflike werk doen en rolmodelle is in die gemeenskap.

Koortjies met Jonathan Rubain kyk na hoe jou geloof jou deur moeilike tye kan dra, hoe om ’n beter medemens vir jou buurman en naaste te wees, en natuurlik praat die gaste oor die krag van sang en lofprysing.

Die 34-jarige boorling van Hanover Park in Kaapstad noem homself ’n Pinkster-seun. Hy is uitstekend daarin om beide Gospel en Jazz-gehore in vervoering te hou tydens uitverkoopte konserte regoor die land. Sy talle aanhangers is gek oor sy musiek en eer hom vir sy toewyding tot sy gemeenskap.

Met talle toekennings en uitverkoopte konserte is Jonathan gereed om kykers te vermaak met ’n lekker saamsing-sessie terwyl koortjies gesing word. Kontemporêre geestelike liedere vorm ook deel van die repertoire.

“Dis die heeleerste Afrikaanse Gospel-reeks! Ek is mindblown! Ek onthou as klein seuntjie in Hanover Park het ek altyd na kinderprogramme op TV gekyk en gehoop dat ek eendag dit sal kan doen. Al die jare was dit maar net in my kop, maar nou is dit ’n werklikheid. Ek kan net die Here dankie sê vir die droom wat hy waar gemaak het,” sê Jonathan. 

Sluit jou Sondag op ‘n positiewe noot af – en moenie vergeet om saam te klets en sing nie!

Koortjies met Jonathan Rubain is elke Sondag om 17:00, DStv kanaal 146 vanaf 18 Oktober 2020 te sien.