Logo
web uni tv guide

Voetspore

144AvontuurPG13

Johan antwoord julle vrae - Voetspore

Nuus
27 Mei 2023
'n Paar weke gelede het ons julle gevra om 'n paar vrae in te stuur wat julle graag aan Johan Badenhorst van Voetspore wil vra. Hier is sy antwoorde op jou baie kreatiew en interessante vrae.
Voetspore

Ek kry gewoonlik een van drie vrae: Wat is die beste 4x4? Waarheen gaan julle volgende? en, Kan ek saamgaan? Nou wil mense ook weet waarheen ek graag sou wou terugkeer, en of ek nooit verlang huistoe nie. Ook of mense vir ons soetkoekies kan bak en ons wasgoed kan doen.

Al die vrae dui op een baie belangrike aspek van reis - dis ’n lewensverrykende ervaring. Reisigers is van nature nuuskierig. Reisigers is aanpasbaar. Reisigers is nie eng en nougeset nie. Die dame wat aanbied om vir ons soetkoekies te bak is een van hoevele mense wat ons al op die pad raakgeloop het. Mense, dwars oor die wêreld, is vriendelik en hulpvaardig. Hulle is geïnteresseerd in wie ons is en wat ons doen en waar hulle kan help. En dan raak reis ook verslawend. Hoe meer ons reis, hoe meer wil ons reis. My dogter Nina, wat die afgelope klompie jare saam met my reis, is onlangs gevra wat is haar gunsteling reis. Haar antwoord - die volgende een.

 

Ons moet natuurlik die regte “gereedskap” hê vir ons reise. Ondervinding help baie. Tans is ons besig met die 17de Voetsporereis. Dis hoekom ons nou weet dat betroubaarheid in jou voertuie en ander toerusting is essensieel. Goedkoop koop is duur koop. Dis nou reeds vir jare wat ons met Toyota Land Cruisers ry. Dis nie die mees ekonomiese en gerieflikste voertuig nie, maar dis die mees betroubare.

Oor die vraag of jy kan saamgaan is die kort antwoord “nee” en die lang antwoord “ja”. Ons is ’n spannetjie van ses, elk met sy unieke bekwaamheid om te help vervaardig aan die TV reeks. Maar ons glo dat wat ons doen vir ander sal inspireer om soortgelyk te doen, veral as hulle sien dat dit nie so moeilik is nie. Die heel belangrikste ding om saam te neem is ’n goeie dosis geduld. Daarmee kom jy baie vêr.

Ek verlang baie huistoe. Om die afgelope bykans 20 jaar altyd een van my kinders saam te hê op reis, help baie. Maar ek het geweldige bewondering en waardering vir my vrou, Alma, se toewyding tot my werk. Soms het sy al die kans gehad om vir ’n week of wat te kom kuier. In die toekoms, wanneer dit nie meer my werk is nie, sal sy heel tyd saam wees.

Ons soos altyd groet ek met - "mooi loop”. Dis meer as net ’n groet. Dit is ’n wens dat dit met jou voorspoedig sal gaan. Dat daar nie struikelblokke op die pad sal wees nie. Dat jou reis verrykend sal wees en dat jy veilig sal terugkeer.

Skakel in vir nuwe episodes van Voetspore: Zambezi elke Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).