Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Wie Word 'n Miljoenêr?

144SpelprogramPG

Joernalis wen halfmiljoenrand – Wie word 'n miljoenêr?

Nuus
23 Maart 2022
Skakel elke Woensdagaand om 20:00 in vir nóg vinnige vingers in Wie word 'n miljoenêr?, nét op kykNET (DStv-kanaal 144)
Theunis Strydom – WIE WORD N MILJOENÊR?

Die ervare sakejoernalis en skrywer Theunis Strydom (42), die eerste halfmiljoen rand-wenner in kykNET se Wie word ’n miljoenêr?-speletjiesprogram, beskryf daardie warm stoel-oomblik “soos 'n werksonderhoud waar die baas jou fire en jou pensioen vir jou uitbetaal voordat hy jou nog eens aangestel het”.

Theunis sê ná hy in 2001 sy kans verbrou het op Who wants to be a millionaire? en sentloos huiswaarts moes keer het hy gedink hy sal nooit weer vir R1 miljoen kan speel nie. Tot nou toe.

“Ja, ek wou die miljoen gehad het. ’n Halfmiljoen is ’n wonderlike bonus, maar nadat ek die vraag oor die fossiel (wat na aartsbiskop Desmond Tutu vernoem is) reg gehad het, het ek gedink: hier kom dit nou! Maar die miljoenvraag het my heeltemal uitgeboul. As jy nie weet nie, dan weet jy eenvoudig nie.”

Hoe hanteer hy die druk op daardie oomblik? Hy pas Rassie Erasmus se woorde ná die Wêreldbekerfinaal in 2019 aan: “Daar is druk en daar is geleenthede. Wanneer jy 'n goeie geleentheid het, moenie daaroor worry nie, doen net jou ding.”

Maar waar kom Theunis aan sy magdom kennis? “Ek is gelukkig dat ek goed kan onthou. Maar ek stel ook in baie dinge belang. En ek is redelik vinnig om iets weer op te roep. Miljoenêr is lekker uitdagend want dis net jy teen die vrae.” Hy loof ook sy vrou, Lejanie, wat hom ook soms van goed vertel waarvan hy nie geweet het nie.

Verder bruis die avontuurlus en die reisgogga deur die are van ‘n man wat graag deur ‘n atlas blaai en enigiets deur Cormac McCarthy van No Country for Old Men-faam lees.

‘n Paar jaar gelede het hy en vriende met ‘n bakkie op ‘n drie maand lange reis van Amsterdam en andere deur Sirië, Soedan en Ethiopië tot in Kaapstad gery. Maar, beloof Theunis, dit raak nou tyd dat Wortel Strydom ‘n boek oor daardie avonture skryf.

Theunis skryf egter nie net fiksie en oor sy eie ervarings nie.

As TJ Strydom het een van sy pennevrugte, Risiko en Rykdom, oor die sakereus Christo Wiese opspraak gewek. Nou is daar weer ‘n sakeboek op pad, maar dié keer sê hy dit gaan dalk snaakser en meer pret wees om te lees as ‘n gewone outobiografie.

Theunis is op sy gelukkigste met ‘n goeie glas wyn in die hand terwyl die houtvuur knetter. “Kom kuier, dan maak ek vir jou ‘n mieliepap-‘jaffle’,” nooi hy.

Maar vir hierdie bekendes is daar nie plek nie, sê hy: “Churchill sal te hard suip, Ghandhi sal te veel dieetvoorkeure hê, Springsteen sal almal in die verleentheid stel met sy denim-baadjie by 'n netjiese restaurant, en ek vermoed Caesar en Napoleon sal stry kry oor die geloofwaardigheid van Asterix en Obelix.”

Theunis en Lejanie bedryf tussendeur die Dunkelder-teater uit hul Johannesburg-huis en baie van hul vrye tyd word daaraan spandeer. O ja, en rugby . . . “as die Sharks of die Springbokke speel, hopelik met 'n goeie brandewyn in die hand,” verklap Theunis.

En die wengeld? Chilé en Argentinië, hier kom Theunis en Lejanie! 

Skakel elke Woensdagaand om 20:00 in vir nóg vinnige vingers in Wie word 'n miljoenêr?, nét op kykNET (DStv-kanaal 144)