Logo

Jeugfilm op soek na jong akteurs

Nuus
31 Maart 2016
Die vervaardigers van die film ‘Nul is nie niks nie’ het ’n landswye soektog na jong akteurs, om die rolle van die hoofkarakters te vul, van stapel gestuur.
kykNET FILMS Feature

Nul is nie niks nie, geïnspireer deur Jaco Jacobs se topverkoper-jeugboek Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, gaan eersdaags in ’n vollengte film omskep word.

Die boek was een van drie finaliste in die filmkategorie van die kykNET/Rapport-boekprys en die vervaardigers het ’n landswye soektog na jong akteurs, om die rolle van die hoofkarakters te vul, van stapel gestuur.

Nul is nie niks nie is ’n hartsverhaal oor die lewe, dood, familie, vriende, liefde en hoop (en ’n paar hoenders). Dit vertel die storie van drie vriende (Hoender, Drikus en Chris) wat saam staan om Drikus se laaste droom te bewaarheid – om ’n film oor zombies te maak.

In dié proses begin Hoender om sy pa se dood te verwerk, hy maak nuwe vriende, kry selfvertroue en leer dat sy eie talente ook waardevol is. Drikus se lus vir die lewe en uithouvermoë en blaas nuwe lewe en hoop in die dorp in.

Die filmspan, met Stefan Enslin (Strikdas en Verskietende Ster) en Lizé Vosloo (Dominee-Truuks) as vervaardigers en Morné du Toit (Hoofmeisie) as regisseur, nooi alle dogters tussen die ouderdomme van 11-13 jaar, asook seuns tussen die ouderdomme van 11-13 jaar, om die oudisies as volg by te woon:

Johannesburg: 9 & 10 April 2016
Plek: Ballywoods Office Park, Bryanston

Kaapstad: 16 & 17 April 2016
Plek: Sal bevestig word

Karakters:

Hoender (Eenkantkind en hoenderboer – seun)
Drikus (Bang vir niks en ’n filmmaker. Hy lei aan Hodgkins se siekte – seun)
Chris (Flambojante rissiepit – dogter)
Safraas (Grootprater en ook veels te groot vir sy skoene – seun)
Waylon (Safraas se oorgewig-vriend en rugbystut – seun)
Jolandi en Mandi (tweeling – dogters)

Die akteurs moet vlot Afrikaans kan praat. Vir meer oor die oudisies, stuur ’n e-pos na [email protected].