Logo

Jans Rautenbach: Totsiens aan ’n baanbreker

Nuus
03 November 2016
Dis met groot hartseer dat ons verneem van die afsterwe van een van die grootste Afrikaanse filmmakers van ons tyd, Jans Rautenbach.
Jans Rautenbach 2015

Dis met groot hartseer dat ons verneem van die afsterwe van een van die grootste Afrikaanse filmmakers van ons tyd, Jans Rautenbach. Hy is Woensdag in die ouderdom van 80 in die Bay View-hospitaal in Mosselbaai oorlede aan komplikasies van longontsteking.

Karen Meiring, M-Net: Direkteur kykNET-kanale, het die volgende oor hom te sê: “Jans Rautenbach was nooit bang om stroom-op te wees nie. Sy debuutfilm in 1968, Die Kandidaat,  het die grondslag gelê vir ’n loopbaan as filmmaker wat nie skroom om die status quo te bevraagteken nie. Erkenning vir sy werk en impak op die Afrikaanse filmbedryf is ongeëwenaar.

“Dit is egter ook sy pionierswerk in die breër kunste wat sorg dat hy verskeie platforms vir ’n jonger generasie agterlaat om hul drome te verwesenlik.

“Ons neem met hartseer afskeid van Oom Jans. Mag ons nooit vergeet om groot te droom en ophou om ons medemens te ondersteun nie.”

Ter nagedagtenis aan Oom Jans, word die Stroom Op-episode met Jans Rautenbach op Sondag 6 November om 16:00 op kykNET uitgesaai.

34 jans abraham kaapstad

34 jans en koos roets

34 jans en almeri

34 jans en karen

34 jans en madiba



Meer oor Jans Rautenbach:

Jans Rautenbach is in Germiston in 1936 gebore en het in Boksburg as ’n mynwerkerseun grootgeword. In die laat 1960’s het hy in vennootskap getree met vervaardiger Emil Nofal en as regisseur van Die Kandidaat (1968), Katrina (1969) en Jannie Totsiens (1970) ’n bakenverskuiwende vernuwing in Afrikaanse film teweeg gebring. Ander hoogtepunte was onder meer Die Ongewensde Vreemdeling (1974), Eendag op ’n Reëndag (1975), Blink Stefaans (1981) en Abraham (2015).

Lees hier meer oor Jans se laaste fliek, Abraham.

Na die verfilming van Pappa Lap (1971) op die dorpie De Rust het Rautenbach sy gesin hervestig in die Klein Karoo en saam met sy vrou Almeri die bergplaas Oulap aan die voet van die Swartberg ontwikkel. Die naam is ’n speling op die frase “ ’n oulap se rooi maak mooi” – met min geld kan baie skoonheid vermag word – sy lewensleuse. In die Klein Karoo was hy ’n stigterslid en Direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.



Oudpresident Nelson Mandela het Oudtshoorn in 2001 besoek toe die Vryheid van die Dorp aan die Klein Karoo Nasionale Kunstefees toegeken is. In later jare het hy baie erkenning vir volgehoue gemeenskapsdiens ontvang, veral vir die transformasie van die plaasskool, Vlakteplaas UCC Primêr. Hy het dit tot een van die top landelike skole in die land ontwikkel. Sy laaste fliek – Abraham, in 2015 – se rolverdeling is grootliks gevul deur plaaslike gemeenskapslede met geen formele drama-agtergrond nie.

Jans was ook die beskermheer van die kykNET-Silwerskermfees. Lees hier sy toespraak by die opening van die Silwerskermfees in 2012.

Jans Rautenbach word allerweë beskou as die grootste Afrikaanse filmmaker en het ’n reuse-invloed op die geslag Afrikaanse akteurs en filmmakers na die 1960’s gehad. Vir sy bydraes aan Afrikaans, film en die gemeenskap is hy telkemale vereer, onder meer deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV, die FAK en sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat. Sy films was die onderwerp van ’n studie deur Prof Martin Botha: Jans Rautenbach, Droomsaaier. Ten tye van sy hospitalisasie was hy in onderhandeling as adviseur vir mede-filmmakers Mireschen Marx-Troskie en Boet Troskie.

Hy word oorleef deur Almeri – sy vrou van 60 jaar – en sy kinders Andri, Erika, Gert, Strydom en sy kleinkinders.