Logo
web uni tv guide

Jan Braai Vir Erfenis

144KookprogramPG

Jan Braai weer ’n keer!

Nuus
30 April 2016
Braai-liefhebbers kan solank hout pak en hul lippe aflek, want Jan Braai vir Erfenis is op 17 Julie 2016 terug met ’n negende seisoen.
Jan Braai Seisoen 9

Jan Braai in Mauritius tydens die onlangse verfilming van die nuwe seisoen van Jan Braai vir Erfenis.


Braai-liefhebbers kan solank hout pak en hul lippe aflek, want Jan Braai vir Erfenis is binnekort weer terug. Met agt seisoene en 104 episodes agter die blad, is die ge(braai)soute Jan en sy span besig om dwarsoor die land en wêreld te reis vir die vervaardiging van die negende seisoen, wat op Sondag 17 Julie om 18:00 afskop.

Dié program, met sy uiters positiewe uitkyk, vind aanklank by oud en jonk en het ’n kernboodskap: Suid-Afrika is die beste land in die wêreld en almal hier hou daarvan om te braai.

Daar is nóg goeie nuus. Ná navorsing deur kykNET en intense samesprekings – natuurlik rondom ’n braaivleisvuur – tussen die kanaal, die produksiespan en die kykers, is daar besluit om voortaan die program op ’n Sondagaand om 18:00 uit te saai. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die miljoene gereelde kykers gaan almal gebuk onder die las van blou Sondagaande en Jan Braai vir Erfenis is presies wat hulle nodig het om te besef die lewe is lekker en alles sal mooi uitwerk.

“Marknavorsing het gewys daar is onmin in huwelike regoor die land wanneer ons uitsending op ’n Vrydagaand met ’n rugbywedstyd bots,” sê Jan. “Ons weet ook dat daar te veel negatiwiteit op ’n Sondagaand op televisie is. Ons gaan die tendens omkeer deur lekker saam met ons miljoene gereelde kykers te toer en te braai. Dit is die spreekwoordelike twee vlieë met een klap, of soos ons in die braai-bedryf sê: twee roosters vleis op een stel kole.”

Karan Beef, Suid-Afrika se hoof- en grootste verskaffer van beesvleis, is saam met Tosas die trotse nuwe hoofborg van die program. Volgens Matthew Karan, bemarkingshoof van dié vleisreus, deel hy en Jan twee groot passies: fietsry en braai, maar veral braai.

“Vir ons by Karan Beef gaan dit oor een ding – kwaliteit,” sê Matthew. “Jan Braai vir Erfenis is ’n uitstekende televisieprogram en ons assosieer onsself met trots met die positiewe boodskap wat dit uitdra. Dit gaan nie net oor wie die grootste steak braai nie, maar ook oor die werk wat Jan deurlopend doen deur die kundigheid en kennis van die kykers uit te brei, asook die korrekte en innoverende maniere om Karan-beesvleis te geniet.”

Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale by M-Net, beskou die program as integraal tot die vlees van die nasie.

“Kyk net hoe baie vleis braai hulle!” sê sy. “My gunsteling is sagte filet, maar ek is ook lief daarvoor om ’n lamsrib op die rooster te gooi. kykNET is trots om die Nasionale Braaidag-projek te ondersteun. Dit wat Jan met die projek regkry vir nasiebou en om die kollig op ons gedeelde erfenis te plaas, is van onskatbare waarde vir ons samelewing.”

Loren Pienaar, die toesighoudende vervaardiger van Jan Braai vir Erfenis, voeg by dat kykers kan uitsien na heelwat interessante nuwe plekke, mense en resepte.

“Dit is moelik om vir Jan en sy produksiespan in die hande te kry,” sê sy. “Hulle is alewig langs die braaivuur en as hulle nie braai nie, is hulle op een of ander avontuur buite enige selfoonnetwerk se bereik. Ons kla egter nie, want ons weet die program gaan soos gewoonlik uitsonderlik wees.”

Een kyker wat baie na die nuwe reeks uitsien, is Arnold Pretorius, hoof uitvoerende beampte van Karan Beef.

“Ek is ’n gereelde kyker, maar ’n mens voel soms vreeslik jammer vir Jan as hy ’n taai steak op die rooster het. Met Karan Beef se betrokkenheid kan ons nou verseker dat elke keer wat hy braai, dit Karan-kwaliteit is en dat elke steak sappig, sag en smaakvol sal wees!”

Jan Braai vir Erfenis begin op Sondag 17 Julie om 18:00 op kykNET.